04/2019

1 Februarie 2019

---

POS BESKIKBAAR

Die volgende pos is, beskikbaar by die skool:

TERREINBESTUURDER (BESTUURSPOS)

Beheerliggaampos vanaf 1 Maart 2019 beskikbaar.

Hooftaak is die BESTUUR van die terrein en werkers.

Navrae kan gerig word by (012) 332 0601

SLUITINGSDATUM:   8 Februarie 2019

Stuur AANSOEKE (CV) per e-pos na: kotzetn@oos-moot.co.za of per faks (012) 332 2457 of handig u aansoek by die skool se Ontvangs in.

Indien u na 'n maand geen terugvoer ontvang nie, was u aansoek onsuksesvol.

---

GELUKWENSE

Baie geluk aan al ons leerders wat presteer. 

Atletiek

ABRIE VAN STADENBYEENKOMS – 28 JANUARIE 2019
Ons topatleet vir dié byeenkoms was Micyla Botha (0/14) met drie eerste plekke en ABSA-punte bo 1000 in Verspring, Hoogspring en Spiesgooi.
Chané van Zyl (0/17) behaal twee eerste plekke met ABSA-punte bo 1000 in Gewigstoot en Spiesgooi.  Ander atlete wat eerste plekke behaal het, was:

Fébé Wessels, Uzaan Roets, Danae Jv Rensburg, Marlo Prinsloo, Evert Alderson en Ruan de Lange.  Baie geluk!

---

Motorfietswedrenne

OOSIES SE  INTERNASIONALE MOTORFIETS RENJAER
Aiden Liebenberg is weer gekies om in 2019 aan die Red Bull MotoGP Rookies Cup deel te neem.  Hy was in 2018 ook deel van die groep van 13 internasionale Rookies wat gekies was. Hul het aan al die Europese MotoGP wedrenne deelgeneem wat in Spanje, Italie, Nederland, Duitsland en Oostenryk plaasgevind het.   Slegs 8 van die 2018 Rookies is weer gekies. Hy vertrek op 28 Maart vir die toets in Jerez, Spanje en werk baie hard om 100% fiks en gereed te wees vir die seisoen.

Aiden is ook 'n lid van ons nuwe sportsoort:  Oosie-Enduro.  Baie geluk en sterkte Aiden. Oosies is baie trots op jou! 

---

Swem

Die volgende swemmers het uitstekende prestasies gelewer tydens die 31 Januarie gala te Hatfield Christian School waar beide A- en B-bond skole deelgeneem het.

Logan Truter (0/16) behaal twee eerste plekke (50m Rugslag en 50m Vlinderslag) asook 'n derde plek in die senior 200m Individuele Medley.

Lesley John Viljoen:  Tweede plek in die Ope- afdeling van die 50m Vlinderslag.

Carlo Jv Rensburg (0/15) behaal 'n derde plek in die 50m Rugslag en Corlia Botha in die Ope- afdeling van die 50m Vlinderslag.  Baie geluk. 

---
---

Tuimel

Baie geluk aan Wian Styger wat na afloop van 2018 se SA Tuimel Gimnastiek byeenkoms nou gekies is om op 6 April aan die Elite SA Cup Kompetisie 2019 deel te neem. Slegs die top Tuimel en Trampolien gimaste van 2018 neem op uitnodiging deel.

---

AKADEMIE

Akademiese Glinsteraand (Gr9 - 12)

Die Akademiese Glinsteraand vir die Graad 9 tot 12-leerders (2018 uitslae) is op 7 Februarie om 18:30 in die skoolsaal.  Die betrokke leerders het uitnodigings ontvang.

Toetsreeks

Ons vestig graag ons ouers se aandag daarop dat die Toetsreeks reeds op 7 Februarie 2019 begin.  Die Toetsrooster is in die leerderdagboekie en op die skool se Webtuiste beskikbaar.  Volg die skakel

Graad 10-Veldskool

Die jaarlikse Graad 10-kamp vind plaas vanaf 28 tot 31 Augustus 2018, te Kwaggasrus (30km anderkant Brits).  Die leerders ontvang 'n skrywe in hierdie verband.  Die koste verbonde aan die kamp beloop R850 per leerder, wat ondermeer die volgende insluit: 

• verblyf

• vervoer

• 9 etes; en drie nagte se gebruik van die kampfasiliteite.

Graag wil ons dat AL die graad 10-leerders die kamp bywoon. Volg die skakel vir skrywe met volledige inligting.  Die skrywe is ook op die skool se webtuiste by Wie is ons/Aflaaibare vorms beskikbaar.

---

SKENKINGSVERSOEK

Ons het 'n graad 8-seun wat baie ver van die skool af woon en daagliks huistoe stap.   Indien u 'n fiets het wat u nie meer gebruik/of nie meer wil hê nie en bereid is om dit aan die skool te skenk sal ons dit opreg waardeer.  Kontakpersoon:  Me Linda Goosen (012) 332 0601

---

SKOOL SE ONTVANGSKANTOOR

Ons vra asseblief dat ons ouers slegs in NOODGEVALLE (bv. medikasie) ʼn pakkie by die ontvangs sal afgee.  Let wel:  Die skool en ontvangskantoor aanvaar geen verantwoordelikheid vir pakkies nie.

---

UITTEKENPROSEDURE

Ons vestig graag ons ouers se aandag op die uittekenprosedure vir leerders. 

Geen afsprake mag (sover moontlik) gedurende skoolure gemaak word nie en bewyse van afsprake moet getoon word. Leerders moet na die afspraak TERUGKOM SKOOLTOE.

OUERS MOET DIE LEERDER(S) SELF BY DIE SKOOL KOM HAAL.

Indien ʼn ouer nie self ʼn leerder kan kom haal nie, MOET ʼn TOESTEMMINGSBRIEF (vooraf) met die volgende inligting by die kantoor ingehandig of na die kantoor gefaks word: 

• Afskrif van die ouer se ID-dokument, volledige besonderhede en ID-nommer van die persoon wat die leerder kom haal (persoon moet sy ID-dokument saambring), die ouer se handtekening en kontaknommer.

Let wel:  Leerders moet elke dag hul skooldagboekie by die skool hê.  Die uittekenregister wat benodig word vir die uitteken van die leerder is voor in die skooldagboekie.

---

KULTUUR

Ligte Musiekorkes

Kom sluit aan by die SA Ope-kampioene en word deel van 'n ongelooflike orkesfamilie.  Ons soek ongeveer 20 nuwe lede wat wil leer dwarsfluit, klarinet, saksofoon, trompet, tromboon, baskitaar, elektriese kitaar en timpani's speel of reeds kan speel.  Belangstellende leerders kan by mnr Danie Smith gaan aanmeld.

Volg die skakel vir die video gemaak deur die hoofleier van die orkes, Danie de Beer.

Lede wat benodig word.

Redenaars

Die uitdunne vir die Afrikaans Redenaars is Woensdag 6 Februarie.  Juniors k 65 en Seniors k69. Almal is welkom.

---

ECO-OOSIE PROJEK

ECO-OOSIES BENODIG DRINGEND HULP MET DIE FLAMINK PROJEK
Twee- tot drieduisend flaminkkuikens is gered, nadat 'n pan in Kimberly drooggeloop het en hul ouers hul daar moes los om self te oorleef.
Onderstepoort Hospitaal het 300 siek kuikens ontvang en die Eco-Oosies het besluit om in te gryp. Ons glo ons is die stemme vir die wat nie 'n stem het nie.

Ons benodig die volgende items:
Koerantpapier
Ou handoeke
Nestum stage 1 Baby Cereal
Elektriese kabels en kragproppe om met verhitting te help
Donasies vir die aankoop van sardientjies en prons.

Die items moet ASSEBLIEF voor Dinsdag, 5 Februarie, by juf Carna Peens se klas afgegee word. Ons wil al die items graag Dinsdag by die hospitaal gaan afgee.

Ons sal u samewerking met hierdie SPESIALE PROJEK opreg waardeer.

Eco-Oosie groete

---

SPORT

Atletiek

MOOT PRESTIGE BYEENKOMS - 1 Februarie (tuis)

Volg skakel vir die program

LET WEL:  Die finale Interhoërreëlings sal in die volgende nuusbrief verskyn.

Krieket

Die jaarlikse Buurmanskaptrofee kompetisie is vanaf 14 Januarie tot 14 Februarie. 

Volg die skakel vir die bepalings

Off-road Motorfietsry

---
---
---

ADVERTEER IN DIE SKOOL SE NUUSBRIEF

Elektroniese Nuusbrief

Die weeklikse nuusbrief word elektronies na ongeveer 1800 e-posadresse uitgestuur.

Kostes vir plasing is soos volg:

• Eenmalig – R250

• Per week – R100

• Per maand - R400

Formaat van advertensie:  Oorspronklike elektroniese formaat (jpeg of png).

Let wel:  Geen pdf of geskandeerde advertensies kan geplaas word nie.

Belangstellendes kan Me M Grobler (Bemarker) kontak by (012) 332 0601 of per e-pos by groblerm@oos-moot.co.za.

---

Oos-Moot groete

S HEARNE (SKOOLHOOF)

---