05/2019

8 Februarie 2019

---

Hoërskool Driehoek tragedie

Die noodlot het 'n week gelede die voete onder hulle uitgeslaan.  Sedertdien veg hul as skool, ouers en gemeenskap saam teen elke traan.  Mag hul ook in hierdie moeilik tyd - soos hul skoolleuse sê "Oorwin deur volharding".  Mag hul krag en vertroosting kry in God.  Die lewe is kort en kosbaar, laat ons elke dag, elke minuut, elke oomblik voluit leef.

---

Dit is met opregte waardering wat ons baie dankie sê vir die ongelooflike reaksie op ons skenkingsversoek vir 'n fiets.  Ons is nou in die posisie om meer as een van ons leerders behulpsaam te wees.  Verdere skenkings en kontantdonasies sal ook waardeer word.  Kontakpersoon:  me Linda Goosen (012) 332 0601

---

GELUKWENSE

Baie geluk aan al ons leerders wat presteer. 

Akademiese Glinsteraand

Die DUX-LEERDERS vir 2018 is soos volg:

Gr 8 - Anne-Karine de Koning (91.62%)
Gr 9 - Heinrich Botha (94%)
Gr 10 - Juané Geldenhuys (90.11%)
Gr 11 - Mareli Mostert (92.5%)
MEES VEELSYDIGE LEERDER VIR 2018 - Mareli Mostert

TAO-TOEKENNINGS

('n Leerder wat ten spyte van sy/haar persoonlike omstandighede deursettingsvermoë in akademie en buitemuurse-bedrywighede getoon het).

Gr 8 - Yolandi van Tonder
Gr 9 - Carl Lourens
Gr 10 - Amos Mmabane
Gr 11 - Emile Agenbag

---

Graad 8-Graadraad en Graadverteenwoordiger 2019

Die skool se VLR-sisteem word vanaf 2019 verfyn deur die infasering van graadrade en graadverteenwoordigers.  Elke klas het 'n seun en dogter as klasleiers en hierdie leerders vorm dan saam die graadraad.  'n Graadverteenwoordiger vir elke graad word demokraties verkies en sal as voorsitter tydens vergaderings optree.

Ons wens graag die volgende graad 8-leerders geluk met hul verkiesing tot die GRAADRAAD:

Matthew Burnett, Jean Pierre Bruwer, Mehlrend du Plessis, Lehan Janse van Vuuren, Wikus Boshoff, Estefan Kruger, Jacques Barnard, Ruan Els, Wandré Kleinsmit, Gert-Hendrik Grobler, Teneal Bond, Steffi Louw, Chanté Badenhorst, Delia Steyn, Zerelda Delport, Avril Norman, Mianca Majoor, Milah de Villiers, Noelani Smit en Elsje Styger.

Jan Hendrik Grobler is verkies as die GRAADVERTEENWOORDIGER (sien foto). Baie geluk!

---

Swem

VRIENDSKAPLIKE GALA - 7 FEBRUARIE

Ons swemmers bou voort op hul prestasies tydens hierdie gala by Cornwall College met die volgende deelnemende A- en B-Bond hoërskole: Curro Hazeldean, Oos-Moot, Woodhill, Menlopark A, Cornwall, Southdowns A, Garsfontein en Montana.

Logan Truter (0/16) behaal die eerste plekke in 50m rugslag en 50m vlinderslag.  Corlia Botha behaal die eerste plek in die 50m rugslag (Ope-afdeling) en derde plek in die 100m vryslag (Ope-afdeling).  Lesley John Viljoen behaal die eerste plek in die 50m rugslag (Ope-afdeling) en Werner Botha die derde plek in 50m rugslag (Ope-afdeling).

---

AKADEMIE

Toetsreeks - datumveranderings

Leerders skryf Dinsdag, 12de Februarie se toetse nou op Maandag, 11 Februarie.  Die verandering is genoodsaak deur die PUK Interhoër atletiekbyeenkoms wat op 12 Februarie plaasvind. 

AFWESIGHEDE GEDURENDE TOETSE EN EKSAMEN

Indien ʼn leerder die dag nie opdaag nie, maar wel toets/eksamen moet skryf, moet die skool voor 08:00 in kennis gestel word en ook van ʼn doktersbrief voorsien word.  Die leerder skryf dan ʼn siekte-toets/eksamen wanneer hy/sy terug is by die skool.  Indien geen doktersbrief voorsien word nie, sal die leerder ʼn 0-punt vir die vraestel ontvang.  Die leerder moet self 'n reëling tref vir die siekte-toets/eksamen.

Graad 12-inligtingsaand

Die Graad 12-leerders en ouers word uitgenooi na die inligtingsaand op 25 Februarie om 18:30 in die skoolsaal.  Belangrike inligting word tydens dié geleentheid aan ouers en leerders deurgegee.

Wiskundesentrum

Die graad 8-leerders het nou Wiskundeklasse op twee verskillende dae.  Leerders kan kies watter dag hul wil bywoon.  Die lesse is dieselfde.

• Maandae - K47 en K48

• Woensdae - K48.

Graad 10-Veldskool

Die jaarlikse Graad 10-kamp vind plaas vanaf 28 tot 31 Augustus 2018, te Kwaggasrus (30km anderkant Brits).  Die leerders ontvang 'n skrywe in hierdie verband.  Die koste verbonde aan die kamp beloop R850 per leerder, wat ondermeer die volgende insluit: 

• verblyf

• vervoer

• 9 etes; en drie nagte se gebruik van die kampfasiliteite.

Graag wil ons dat AL die graad 10-leerders die kamp bywoon. Volg die skakel vir skrywe met volledige inligting.  Die skrywe is ook op die skool se webtuiste by Wie is ons/Aflaaibare vorms beskikbaar.

---

OOS-MOOT RAAD PROJEK - "SPORT BUDDY"

Die Oos-Moot Raad wil hierdie spesiale projek loods en vra almal se ondersteuning.


Die doel van hul projek is om:

• Sporttoerusting en amptelike sportdrag wat oortollig en nog in ‘n goeie, bruikbare kondisie is in te samel vir kinders wat aan sport deelneem maar dit nie kan bekostig nie.

• Ons eerste skenkingsinsameling is op Vrydag, 8 Februarie by die atletiekveld, tydens die byeenkoms.  Ons gaan die skenkingsveldtog weer by ander sportbyeenkomste (rugby, hokkie, netbal, krieket, sagtebal, ens.) herhaal.

• Die klere kan in die twee houers by die Ondersteunersklub gazebo geplaas word.

• Leerders wat sporttoerusting en sportdrag benodig kan telefonies, of per e-pos hul behoefte aan toerusting of sportklere deurgee.  

• Die sportdrag en toerusting sal ook op 'n spesifieke dag (bv. 'n Woensdagmiddag) beskikbaar gestel word vir leerders om self te gaan kyk of hul die nodige items kan kry.

---

OUERLEIDING ARTIKEL

Ons plaas graag, deur die loop van hierdie jaar, artikels waarby ons ouers baat kan vind.  Die eerste artikel vir die jaar is:

TIENER VS OUER [bron:  Vrouekeur 29 September 2017)

Selfs die oulikste tieners stamp soms kop met hul ouers.  Hoe hanteer jy hierdie konfliksituasies so dat dit jul verhouding versterk.

Volg die skakel vir die volledige artikel

---

AMPTELIKE FOTODAG

Die fotodag is op Woensdag, 13 Februarie.  Leerders moet asseblief in die korrekte skooldrag (somersklere) geklee wees.

---

ECO-OOSIE PROJEK

Die Eco-Oosies se flaminkprojek wat op 1 Februarie geloods was, was 'n groot sukses.  Die reaksie van die Oosie-leerders, ouers en gemeenskap was FANTASTIES ONDERSTEUNEND.

Die Eco-Oosie bestuur bedank graag almal vir hul ruimhartige skenkings, wat reeds en nog steeds 'n verskil gaan maak.

Ons waardeer dit opreg!

Oosie-groete

---
---

SPORT

Atletiek

VALENTYNSBYEENKOMS - 8 Februarie (tuis)

Volg skakel vir die program

INTERHOËR - 22 Februarie (weg)

Die volgende belangrike inligting ten opsigte van dié byeenkoms:

Die byeenkoms vind op 22 Februarie, te Hoërskool Menlopark plaas.  Daar is slegs 180 ouer/toeskouersitplekke.  Ouers kry op 14 Februarie vanaf 09:00 geleentheid om van dié kaartjies, teen R50 by die skool aan te koop (me M Grobler).  Parkering is teen R100 per motor beskikbaar.  Dit word by die hekke van die skool betaal.  Let wel:  Alle insittendes moet 'n toeskouersbandjie dra om toegang tot die skoolterrein te verkry, anders gaan u buite moet parkeer.  Hul versoek dat ouers saamry of Uber.

Krieket

• "Six-a-side" - 13 Februarie

• Buurmanskaptrofee kompetisie - 14 Januarie tot 14 Februarie. 

Volg die skakel vir al die bepalings

---

ONDERSTEUNERSKLUB

Ons wil graag namens die Ondersteunersklub van die geleentheid gebruik maak om al ons getroue Oos Moot ondersteuners welkom te heet in 2019. Ons wil net die volgende paar belangrike brokkies inligting deurgee:

Ondersteunersklubkleredrag

Die Ondersteunersklubklere is nou by die skool se Kafeteria beskikbaar en bestellings kan daar by Erika van Schalkwyk geplaas word, indien ons nie voorraad beskikbaar het nie.  Ons wil almal asseblief aanmoedig om die ondersteunersklere aan te koop en te dra by alle skoolbyeenkomste.  Die klere lyk nie net mooi nie maar dit vorm ook ‘n sterk band van eenheid veral as die Blougolf ouers saam sit.

Waterdruppelplakkiers

Ons stel weer Waterdruppelplakkers vir voertuie beskikbaar by die skool se kafeteria (Erika). Lede wat die R150 fooi aan die begin van die jaar (saam met julle skoolfonds) betaal het kan gerus die plakkers gaan afhaal.  Twee plakkers per gesin.  Hierdie plakker bied ons lede GRATIS toegang tot sportgeleenthede by ons sportterrein (behalwe by spesifieke fondsinsamelingsprojekte waar die skool onafhanklike hekgelde hef).  Die plakker word regs bo, op die motor se voorruit aangebring.

Die Ondersteunersklub se gazebo is Vrydag, 8 Februarie, langs die fisioterapeute se stasie.  Belangstellendes kan 'n draai kom maak of vir Pieter kontak by 0825686859 of per e-pos by pieter@pjviljoen.co.za.

Oos-Moot Ondersteunersklub groete

---
---
---

ADVERTEER IN DIE SKOOL SE NUUSBRIEF

Elektroniese Nuusbrief

Die weeklikse nuusbrief word elektronies na ongeveer 1800 e-posadresse uitgestuur.

Kostes vir plasing is soos volg:

• Eenmalig – R250

• Per week – R100

• Per maand - R400

Formaat van advertensie:  Oorspronklike elektroniese formaat (jpeg of png).

Let wel:  Geen pdf of geskandeerde advertensies kan geplaas word nie.

Belangstellendes kan Me M Grobler (Bemarker) kontak by (012) 332 0601 of per e-pos by groblerm@oos-moot.co.za.

---
---

Ons opregte dank aan ons BORGE

Oos-Moot groete

S HEARNE (SKOOLHOOF)

---