17/2019

13 Junie 2019

---

LIEF EN LEED

Dit is met leedwese wat ons verneem het van die afsterwe van Chante Badenhorst (gr8) se ouer broer (oud-Oosie). Ons dra jul in ons bede op.

---

SKOOL SLUIT

Die skool sluit op Vrydag, 14 Junie om 11:00. Leerders skryf nog eksamen tot 11:00.

Na 'n besige kwartaal wat ten einde loop, bedank ons graag almal vir hul harde werk en wens u 'n heerlike rustyd toe. Die skool heropen op 9 Julie 2019. Veilig reis.

---

ONS GROET

Ons Oosie-legendes, Mnr Hearne (tree af), mnr Francois van Staden (bevorderingspos aanvaar) en mnr Riaan Odendaal (na privaatsektor) verlaat Oos-Moot aan die einde van Junie. Hul laat diep spore by Oos-Moot en het 'n spesiale plek in die Oosies se harte. Ons sien uit na gereelde besoeke en ondersteuning by ons Oosie-aktiwiteite.

Afskeidsboodskap

Nogmaals dankie vir die voorreg om die afgelope agt en 'n half jaar die hoof van hierdie spesiale skool te kon wees.

Ek het reeds afskeid geneem van die leerders en onderwysers en wil hiermee graag al die ouers groet en bedank vir hul ondersteuning die afgelope jare.

Die sukses van Oos-Moot is in 'n groot mate te danke aan ons ouers, u deurlopende betrokkenheid, hulp en ondersteuning. Ons is dankbaar vir die opvoeding wat julle aan jul kinders gee. Ons sien en beleef die resultaat daarvan by die skool.

Dankie vir al die mooi wense en geskenke wat ek in die afgelope tyd van julle ontvang het, dit word baie waardeer.

 Mnr Steven Hearne

---

GELUKWENSE

Baie geluk aan al ons leerders wat prestasies op verskeie gebiede behaal het. Oosies is trots op julle!

---

Skole Kookkompetisie

Nica-May van Zyl, Amorie Scheepers, Rolinda Benadie en Mené Louw het deelgeneem aan die Skole Kook kompetisie. Dit gaan later vanjaar op VIA uitgesaai word. Skole Kook is ‘n nasionale kookkompetisie waar slegs leerders wat die vakke Verbruiker- of Gasvryheidstudies het. Ons is baie trots hierdie leerders.

---

Akrobaat: Suid-Afrikaanse Kampioenskappe

Die volgende Oosies het met hul deelname aan hierdie kampioenskappe presteer:

 Monya vd Merwe (gr9) behaal die 6de plek uit die top 15 meisies (ouderdom 13 – 16jr) en verwerf haar Suid-Afrikaanse kleure. Elsje Styger (gr8) is as die algehele wenner van Level 8 (alle ouderdomme) aangewys. Sy het 'n spesiale toekenning ontvang omdat sy die afgelope 8 jaar die SA wenner is. Zane du Toit behaal die derde plek vir Level 9 en verwerf haar SA kleure. Baie geluk!

---

Landloop - Noord Gauteng

Marno Gerber (0/19) het gekwalifiseer vir die Noord Gauteng span wat Saterdag, 1 Junie aan die interprovinsiale byeenkoms in Middelburg deelgeneem het. Baie geluk!

---

Eidsteddfod Prysuitdeling

Michael Ferreira (gr11) was genooi om tydens die Pretoria Eisteddfod se prysuitdeling op 31 Mei 2019 ’n klavier-item te lewer. Hy het die SAVMO Pretoria Wisseltrofee vir die hoogste punt vir Senior Klavier graad 6, sowel as die Unisa Musiekeksamen Geldprys vir klavier graad 4 tot 8 verwerf. Baie geluk!

---

Hokkie

Baie geluk aan ons hokkiespanne wat die uitspele teen Sutherland gewen en die seisoen so suksesvol afgesluit het.

---

"Sonder sakerekenaar" Wiskundekompetisie

Baie geluk aan die wenners (per graad) van dié interne kompetisie.

 Eerste prys: Mareli Mostert (gr12), Curt-Lee Kleynhans (gr11), Bobbie de Jager (gr10), Werner Jv Rensburg (gr9) en Merwe Scholtz (gr8).

 Tweede prys: Sean Macmillan (gr12), Anriette Haasbroek (gr11), Kyle Viljoen (gr10), Raymordt Groenewald (gr9) en Lené Briedenhann (gr8).

---

JSKA Nasionale Kampioenskappe

Daniëlle de Kock (gr10) het tydens die Suid Afrikaanse JSKA Nasionale Kampioenskappe (8 Junie) drie goue medaljes (Kata, Kumite en Fight) en een bronsmedalje (Team Kata) verower in die kategorie Bruin Belt (in haar ouderdom). Sy is ook gekies om aan die Wêreldkampioenskappe wat later vanjaar plaasvind, deel te neem. Baie geluk met 'n uitnemende prestasie

---

AKADEMIE

RAPPORTE

Die leerders ontvang hul rapporte op 19 Julie 2019.

OUERAAND

Die oueraand (op uitnodiging) vir die graad 8- tot 12-leerders is op 22 Julie.

Graad 12- WINTERSKOOL
Die Winterskool is gedurende die Junie/Julie skoolvakansie. Volledige inligting is op die skool se webblad (Akademie/Winterskool) beskikbaar.

---

D6 CONNECT TOEP

Ons moedig ons ouers en leerders aan om so gou moontlik op die skool se toep (selfoon en rekenaar) te registreer. Buiten leerders se punte, dissipline, afwesighede, sms'e en e-posse sal daar ook direkte kommunikasie vanaf organiseerders en afrigters deur die toep met die onderskeie sportspanne wees. Vanaf Augustus 2019 sal sms-kommunikasie en die skool se nuusbrief grootliks deur die toep geskied. Volg die skakel vir meer inligting aangaande die toep en registrasie.

---

MY SCHOOL KOMPETISIE

Baie dankie vir al die ouers wat hulle My School-kaarte gebruik wanneer hulle aankope by die deelnemende winkels doen.  Die besighede wat deel van die projek is, is Woolworths, Engen, Bidvest Waltons, Flight Centre en Loot.

Die skool ontvang tans gemiddeld R1600 per maand uit die projek.  Daar is nou 'n kompetisie vir die deelnemende skole aan die gang.  Die eerste prys is R150 000 aan die skool en ook R150 000 in geskenkbewyse aan die ouers.  'n Voorheen benadeelde skool van ons keuse kan R100 000 wen.

Om die kompetisie te wen moet 'n skool sy "swipes" vermeerder.  Ons "swipes" oor dieselfde tydperk verlede jaar was 1553. Veelvuldige gebruik op dieselfde dag by dieselfde onderneming geld as een inskrywing.

Kom ons aanvaar die uitdaging.  As ons wen kan ons die skoolfonds met R100 per leerder aanvul wat 'n groot effek op volgende jaar se skoolfonds kan hê.

---

PnP WAVERLEY:  KOMPETISIE

Die jaarlikse PnP kompetisie is aan die gang.  Die skool met die meeste BETAALSTROKIES wen 'n bedrag geld.  Ons vra dat ons ouers en leerders ons steeds ondersteun en hul betaalstrokies in die houer gemerk OOS-MOOT plaas.

---

BEKENDE OUD-OOSIE

---

REVUE 2019

Die Revue beloof om hierdie jaar weer 'n skouspel te wees. Die optredes is vanaf 13 tot 17 Augustus 2019 in die skoolsaal. Die koste per kaartjie is R100 per persoon. Revue-kaartjies kan nou ook aanlyn, deur die D6 toep aangekoop word. Aanlynverkope open op 18 Junie. Kontantaankoop van kaartjies open op 9 Julie.

D6 TOEP:  HOËRSKOOL OOS-MOOT

Die skool streef daarna om, vir veiligheidsredes, die kontant op ons terrein te verminder en is trots om nou ook ‘n aanlynopsie te bied om die verkoop van ons Revue-kaartjies te fasiliteer.

AANLYNKAARTJIEVERKOPE werk dus soos volg:

• ‘n Skakel sal in die D6 toep gedeel en vir alle ouers per e-pos gestuur word.  Ouers kan die skakel op hul foon of rekenaar oopmaak en die hoeveelheid kaartjies wat hul wil aankoop, aandui.

• Die betaling vir die kaartjies geskied deur die D6 beursie in die toep.  Ons stel voor dat ouers eers ‘n bedrag geld (verkieslik per EFT) in die beursie laai deur die verwysing soos aangedui in die toep te gebruik.

• Kaartjies kan ook per kaart betaal word.  Die bankkoste sal egter van die ouer se rekening verhaal word.

• Na betaling sal ouers ‘n bewys van betaling, per e-pos, ontvang. 

• Die bewys van betaling word gebruik om die besprekings (optrededatum en sitplekke) vanaf 9 Julie by die skool te doen. 

• LW:  Daar is ‘n beperkte aantal sitplekke. 

• Kaartjieverkope op die d6 Connect (toep) open op 18 Junie.

KONTANTAANKOOP VAN KAARTJIES:

• Kaartjies kan vanaf 9 Julie 2019 by die skool (kontant/kaart) aangekoop word.

• Besprekings (optrededatum en sitplek) word by die skool gedoen.

---

SPORT

Sterkte aan al ons leerders wat gedurende die vakansie by sportaktiwiteite (uitspele, toere, oefening, ensovoorts) betrokke is.

---

ADVERTEER IN DIE SKOOL SE NUUSBRIEF

Belangstellendes kan Me M Grobler (Bemarker) kontak by (012) 332 0601 of per e-pos by groblerm@oos-moot.co.za.

---

Ons opregte dank aan ons BORGE

Oos-Moot groete

S HEARNE (SKOOLHOOF)

---