26/2019

6 September 2019

Lente is hier

Bêre jou jas en stewels die winter is verby en daar is 'n nuwe belofte in die lug.  Kan jy die warm wind van verandering voel?  Hoor jy dat die voëls in die bome 'n nuwe lied sing.  Dit is 'n lied van hoop en lewe.  Sien jy dat die veld gevul word met kleurvolle blomme gesiggies.  Selfs die son is helderder.  Kom nou dit is nie nodig om jou jas so vas te klou.  Wil jy nie saam met die kinders daar buite speel en baljaar.  Hoor hul vrolike gelag.  Die winter is nou verby my kind en dit is oral te sien.  Bêre nou jou jas en maak reg vir 'n nuwe begin. 

Gedig deur Ann Janse van Rensburg

---

BAIE DANKIE

Ons sê graag dankie vir 'n ieder en elk wat ons uithelp by ons funksies, sport-, kultuur en ander aktiwiteite.    'n Spesiale woord van dankie aan die Oosie-golf wat tydens die eerste voorseisoen atletiekbyeenkoms (4 September) die ondersteuners en atlete met hul sang en ondersteuning tot laataand op hul tone gehou het.

---

PERSONEEL

Ons gelukwense aan mnr P Kompagnie wat verloof geraak het en me C Lazarus wat in die huwelik tree.

---

GELUKWENSE

Bergfietsry

BUFFELSDRIFT - 31 AUGUSTUS 2019

Ons fietsryers het die afgelope naweek letterlik gery dat die stof so staan.  Kayla Hodgman het die eerste plek in die 0/15-ouderdomsgroep in die Spurreeks behaal. Sy is die Gauteng-Noordwenner vir 2019 en gaan op 27 September aan die nasionale kampioenskappe deelneem. Lourene Dreyer het die tweede plek in die Junior Women-afdeling behaal. Sy is algeheel in die tweede plek in Gauteng-Noord en neem saam met die volgende drie ryers ook aan die nasionale kampioenskappe deel. JJ Maree, Carli Schoonbee en Marize Aucamp.

Baie geluk en sterkte!

---

ALL STARS

Geluk aan ons All Stars wat hierdie jaar weer die Kaleidoscope Revue kompetisie gewen het. Ons is trots op julle! Al die dae en ure se swoeg en sweet was die moeite werd.

---

Perdry

Yvonne Kruger (gr8), het gekwalifiseer vir die SANESA Suid-Afrikaanse kampioenskappe wat gedurende die September skoolvakansie plaasvind. Sy is deel van die Gautengspan in Prix Caprilli. Baie geluk en sterkte!

---

AKADEMIE

Graad 12-eindeksamen 2019:  Visuele Kuns Prakties

Die Visuele Kuns Praktiese Eksamen vir die graad 12-leerders is vanaf 7 tot 10 Oktober in die Visuele Kunsklas.  Die sessie begin om 08:00 en eindig om 14:30.

Toetsdatumveranderings

20 September is 'n amptelike skooldag en volgens wet is leerders skoolpligtig.  Geen versoeke vir afwesigheid op hierdie dag sal toegestaan word nie.    Verskeie vakke se SBA's (vir jaarpunte) moet voor Oktober voltooi word.  Toetsdatumveranderings is dus soos volg:

17 September 2019

• Graad 8 - Wiskunde

• Graad 9 - Besigheidstudies

• Graad 10 - Rekeningkunde en Visuele Kuns (vir leerders wat nie Rekeningkunde het nie)

• Graad 11 - Wiskunde

19 September 2019

• Graad 8 - Engels (V3) Eksamenvraestel

• Graad 9 - Afrikaans (V3) Eksamenvraestel

• Graad 10 - Afrikaans (V3) Eksamenvraestel

• Graad 11 - Afrikaans (V3) Eksamenvraestel

20 September 2019

• Graad 8 - Afrikaans (V3) Eksamenvraestel

• Graad 9 - Engels (V3) Eksamenvraestel

• Graad 10 - Engels (V3) Eksamenvraestel

• Graad 11 - Engels (V3) Eksamenvraestel.

Leerders skryf tot 11:00, waarna die skool verdaag vir die skoolvakansie.  In die geval van afwesighede moet 'n doktersbrief ingehandig word.

---

AANLYNREGISTRASIEPROSES VIR GRAAD 8'S 2020

---

TROFEES

Dit is byna tyd vir die jaarlikse prestasie-aande vir Sport, Kultuur en Akademie.  Me N Visser het versoek dat ALLE wisseltrofees asseblief voor 20 September by haar ingehandig word.

---

FONDSINSAMELINGS

Die fondsinsamelingsreëlings ten opsigte van die volgende twee datums is soos volg:

13 September

Dit is Leukemia bewustheidsmaand.  Leerders kan met 'n donasie van R10 per leerder, op Vrydag, 13 September privaatklere skool toe aantrek.  Bring asseblief die kleur  "Oranje" iewers in.

20 September

Fondse word vir krieket ingesamel en leerders kan met 'n donasie van R10 per leerder,  op Vrydag, 20 September, 'n Springbok rugbytrui of donkergroen T-hemp met 'n netjiese LANG denimbroek skool toe aantrek.

---

KULTUUR

Orkes

Die ligte musiekorkes tree by die volgende geleenthede op:

• 6 September - Prospectus Novus Skool se Lenteliggiefees

• 27/28 September - Suid-Afrikaanse Kampioenskappe in Durban

Kom ondersteun ons asseblief en geniet ongelooflike mooi musiek.

Kultuurdinee 2019

Die afsnydatum vir RSVP's is op 9 September 2019. Leerders wat twee of meer sertifikate van verdienste vir kultuuraktiwiteite ontvang asook 'n eerste balkie of hoër is uitgenooi. 

Indien daar leerders is wat nie uitnodigings ontvang het nie en graag daaroor wil navraag doen, kan hulle dit sou gou moontlik met me Maria du Plessis in T6 gaan bespreek.  Kontakbesonderhede vir me Maria du Plessis (duplessism@oos-moot.co.za).

---

SPORT

Besoek ons onderskeie sportwebbladsye vir inligting aangaande ons verskillende sportsoorte, wedstrydprogramme, uitslae ens.

ATLETIEK

13 September - TUT Top 12-byeenkoms

NETBAL

Fast5-wedstryde op 6/7 September.  Program

RUGBY

7's-wedstryde op 6/7 September te H/S Eldoraigne.  Program

SAGTEBAL

10 en 13 September.  Program

Sterkte aan al ons leerders wat aan die onderskeie sportaktiwiteite van die skool deelneem.

---

SOSIAAL

Lentebal

Die jaarlikse Lentebal word elke jaar in September deur die nuwe Oos-Moot Raad gereël en aangebied. 

Datum:  14 September 2019
Tyd:  18:30 tot 23:00
Koste:  R70 per kaartjie
Tema: All around the world

Kaartjies sal vanaf Maandag, 9 September beskikbaar wees.

---

Ons opregte dank aan AL ons BORGE

Ons waardeer ELKE donasie, borgskap en skenking. 

Oos-Moot groete

TN KOTZÉ (Wnmd Skoolhoof)

---