27/2019

13 September 2019

Die derde kwartaal vir 2019 is op sy laaste bene en almal sien met versugting uit na die kort maar broodnodige blaaskans voor die vierde en laaste kwartaal vir hierdie jaar aangepak word.  Dankie is 'n piepklein woord om die GROOT dankbare gevoel vir elkeen wat 'n bydrae gelewer het, te verwoord.  DANKIE!

Rondomtalietyd

Die weer vakansietyd.  Dis rondomtaliedraai, ons gaan lekker visvang in die hoek van die baai, waar die sonstrale lekker op my rug kan brand, waar ek drome kan droom met my tone in die sand of ek seil in 'n grot by die gat van die meer en lag hardop want ek hoor meneer.  Hy sê:

"Staan op, sit stil, boeke oop leer jou les, oe-la-la-la.  Staan op, sit stil, boeke oop leer jou les, oe-la-la-la.  As jy weer laat kom kry jy ses van die bestes, oe-la-la-la."

Dis weer vakansietyd, dis rondomtaliedraai, ek ry met my fiets en ek maak lawaai waar die kranse die eggo's van my stem hoor sing, en my maters saam en ons doen ons ding.  Nog 'n dag is oor en die blink son sak en ons dink aan die onnie in sy swart pak.

Rondomtalietyd uit die "fliek" LIEFLING

---

SKOOL SLUIT

Die skool sluit op 20 September om 11:00.  Leerders skryf eksamenvraestelle tot 11:00, waarna die skool verdaag vir die skoolvakansie.  In die geval van afwesighede moet 'n doktersbrief ingehandig word.

Die skool heropen weer op 1 Oktober.  Dit is dag 4 op die skoolrooster.

---

GELUKWENSE

Junior Blitsbrein Vasvrakompetisie 2019

Baie geluk aan Michelle Stone (gr11) en Juané Geldenhuys (gr11) wat in die Top 10 in Gauteng geëindig het in Cumlaude Media se landswye Junior Blitsbrein vasvrakompetisie.   Die finale rondte is Saterdag, 14 September by Hoërskool Zwartkops. Oosies is baie trots op julle!

---

Verbruikerstudies Olimpiade 2019

Anandi van Rensburg (Gr12) is tydens die Universiteit van die Vrystaat se Verbruikerstudies Olimpiade 2019 aangewys as een van die leerders wat onder die Top 10 in die olimpiade geëindig het. Die prysuitdeling is op 1 Oktober by die Universiteit van die Vrystaat. Baie geluk! Oosies is ongelooflik trots op jou!

---

ISKF Karate Kampioenskappe

4 Oosies spog met pragprestasies tydens hierdie kampioenskappe.
Lorijke Müller (gr8) het tydens die ISKF Suid-Afrikaanse Karate kampioenskappe op 7 September, ‘n brons medalje vir Kumite en ‘n 4de plek vir Kata behaal.
Zanushka Bedford (gr11) het silwer medaljes in Kata en Kumete vir dogters (0/17) verwerf.
Brendon Bedford (gr8) het 'n bronsmedalje in Kata (0/14) verwerf en Nathan Bedford (gr8) 'n goue medalje in Kumete (0/14). Hul is almal opgeneem in die Suid-Afrikaanse span wat in 2020 aan die 4de Wêreld Shoto Cup in London gaan deelneem. Baie geluk en sterkte!

---

Rugby

Anuschka Ekron (0/15) is gekies vir die OR Tambo Soncini Spele in Oktober. Baie geluk en sterkte!

---

Krieket

Thinus Gouws (gr11) is gekies vir die Noord Zone streekskrieketspan. Baie geluk en sterkte met die proewe!

---

AKADEMIE

Graad 12-eindeksamen 2019:  Visuele Kuns Prakties

Die Visuele Kuns Praktiese Eksamen vir die graad 12-leerders is vanaf 7 tot 10 Oktober in die Visuele Kunsklas.  Die sessie begin om 08:00 en eindig om 14:30.

Toetsdatumveranderings

20 September is 'n amptelike skooldag en volgens wet is leerders skoolpligtig.  Geen versoeke vir afwesigheid op hierdie dag sal toegestaan word nie.    Verskeie vakke se SBA's (vir jaarpunte) moet voor 20 September voltooi word.  Toetsdatumveranderings is dus soos volg:

17 September 2019

• Graad 8 - Wiskunde

• Graad 9 - Besigheidstudies

• Graad 10 - Rekeningkunde en Visuele Kuns (vir leerders wat nie Rekeningkunde het nie)

• Graad 11 - Wiskunde

19 September 2019 (normale skooldag met al die periodes)

• Graad 8 - Engels (V3) Eksamenvraestel

• Graad 9 - Afrikaans (V3) Eksamenvraestel

• Graad 10 - Afrikaans (V3) Eksamenvraestel

• Graad 11 - Afrikaans (V3) Eksamenvraestel

20 September 2019

• Graad 8 - Afrikaans (V3) Eksamenvraestel

• Graad 9 - Engels (V3) Eksamenvraestel

• Graad 10 - Engels (V3) Eksamenvraestel

• Graad 11 - Engels (V3) Eksamenvraestel.

Leerders skryf tot 11:00, waarna die skool verdaag vir die skoolvakansie.  In die geval van afwesighede moet 'n doktersbrief ingehandig word.

Rapporte

11 Oktober - Graad 8 tot 11 (Jaarpunte)

---

SKOLE KOOK 2019

Vier Oosies is ingeskryf vir hierdie kompetisie.  Hou ons Facebookblad dop vir video-grepe en meer oor hierdie kompetisie. 

---

KULTUUR- EN SPORTDINEE

• 4 Oktober - Kultuurdinee

• 8 Oktober - Sportdinee (datum het verskuif vanaf 9 Oktober)

---

GRAAD 12 - KERKDIENS

Ons nooi graag ons matrikulante, hul ouers en vriende na die jaarlikse Gr12-kerkdiens.  Die presiese plek en tyd sal gekommunikeer word.

---

AANLYNREGISTRASIEPROSES VIR GRAAD 8'S 2020

---

FONDSINSAMELING - KANKERVEGTER

Jeanine Olivier is 'n oud-Oosie (2018) wat gediagnoseer is met Akute Myeloid Leukemia, 'n vorm van bloedkanker. Sy benodig finansiële steun vir haar kankerbehandeling. Ons Oosies ondersteun haar  op Vrydag, 13 September waar die leerders gewone klere kan aantrek en 'n donasie vir haar fondsinsameling kan maak.  September is Leukemia bewustheidsmaand.  As jy voel jy wil ook 'n finansiële bydrae maak, kontak gerus die skool, H/S Oos-Moot (012) 3320601. Ons bedank byvoorbaat al ons leerders, ouers en die gemeenskap vir hul bydraes.

---

TROFEES

Dit is byna tyd vir die jaarlikse prestasie-aande vir Sport, Kultuur en Akademie.  Me N Visser het versoek dat ALLE wisseltrofees asseblief voor 20 September by haar ingehandig word.

---

FONDSINSAMELINGS

Die fondsinsamelingsreëlings ten opsigte van die volgende twee datums is soos volg:

13 September

Dit is Leukemia bewustheidsmaand.  Leerders kan met 'n donasie van R10 per leerder, op Vrydag, 13 September privaatklere skool toe aantrek.  Bring asseblief die kleur  "Oranje" iewers in.

20 September

Fondse word vir krieket ingesamel en leerders kan met 'n donasie van R10 per leerder,  op Vrydag, 20 September, 'n Springbok rugbytrui of donkergroen T-hemp met 'n netjiese LANG denimbroek skool toe aantrek.

---

KULTUUR

Orkes

Die ligte musiekorkes vertrek op 22 September na Durban en keer terug op 29 September.  Hul tree op 27/28 September by die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe in Durban op.

Sterkte!

---

SPORT

Besoek ons onderskeie sportwebbladsye vir inligting aangaande ons verskillende sportsoorte, wedstrydprogramme, uitslae ens.

ATLETIEK

• 13 September - Prestige College (nie TUT byeenkoms)

• 19 September - Twizza Top 15 (TUKS)

• 4/5 Oktober - Top 10 (Naboomspruit)

• 11 Oktober - TUT Top 12

• 18/19 Oktober - TOP 30 (Potchefstroom)

Sterkte aan al ons leerders wat aan die onderskeie sportaktiwiteite van die skool deelneem.

---

SOSIAAL

Lentebal

Die jaarlikse Lentebal word elke jaar in September deur die nuwe Oos-Moot Raad gereël en aangebied. 

Datum:  14 September 2019
Tyd:  18:30 tot 23:00
Koste:  R70 per kaartjie
Tema: All around the world

Kaartjies is gedurende die skooldag beskikbaar.

---

KOMPETISIES

PnP Waverley

Die jaarlikse PnP kompetisie sluit aan die einde van Oktober.  Die skool met die meeste BETAALSTROKIES wen 'n bedrag geld.  Ons vra dat ons ouers en leerders ons asseblief in hierdie laaste paar weke steeds sal ondersteun en hul betaalstrokies in die houer gemerk OOS-MOOT plaas.

Die skool gebruik jaarliks hierdie fondse om die fasiliteite vir die leerders te verbeter.  Die afgelope paar jaar het ons tafelbankies aangekoop waarby die leerders lekker kan sit en kuier of huiswerk doen.

---

Ons opregte dank aan AL ons BORGE

Ons waardeer ELKE donasie, borgskap en skenking. 

Oos-Moot groete

TN KOTZÉ (Wnmd Skoolhoof)

---