GESKIEDENIS (1953 – 2018)

Op 8 Januarie 1952 staan daar op die hoek van Pierneefstraat en 25ste laan, Villieria ‘n nuwe, sierlike skoolgebou wat opgerig is vir die laerskoolleerlinge van die omgewing.  Dit is die nuwe Derdepoortse Hoërskool wat ‘n aanvang neem met 211 leerlinge en mnr JC Geertsema as die Hoof.  Die skoolgronde is woes begroei met hoë gras en speelruimte was daar nie.

Die skool ontvang op 20 Mei 1953 ‘n skrywe van die Sekretaris van die Transvaalse Onderwysdepartement waarin vermeld word dat die Derdepoortse Hoërskool tydelik moet verhuis na die gebou van die voorgestelde Engelse mediumskool te Cunninghamlaan 98, Waverley en dat die naam die Derdepoortse Hoërskool  verander moet word om aan te dui dat dit die nucleus vorm vir ‘n toekomstige hoërskool in die gebied Waverley, Villieria en Rietfontein.

Op 8 Julie 1953 heropen die skool, na die wintervakansie, met die nuwe naam Hoërskool Oos-Moot wat deur die Onderwysdepartement aan die hand gedoen is.  Dit is ook so aanvaar.   Die skoolwapen is in 1953 deur mnr JS du Toit ontwerp en in wol uitgewerk deur Nellie Labuschagne en Magdalena Pieterse, twee skoliere van standard 8.

Op 29 Oktober 1954 is tenders aangevra vir die oprigting van die nuwe gebou van Hoërskool Oos-Moot te Haarhoffstraat 1120, Villieria, tussen 32 en 33ste laan.  Mnr V Moore het die tender vir die oprigting van die skool gekry en die eerste sooi is op 11 Maart 1955 in die teenwoordigheid van leerders, personeel, gaste en ouers deur mnr T Wassenaar (L.U.K) omgekeer.  Die sportterrein is gelyk gelê en deur leerlinge met gras beplant.  Op 19 November 1955 is die hoeksteen deur mnr FH Odendaal, die LUK gelê en val dit saam met die 100 jarige bestaansjaar van Pretoria.

Die skool heropen in 1956 met 475 leerlinge en 21 personeellede.  Aan die einde van die derde kwartaal in 1956 verhuis die skool na die skoolgebou te Haarhoffstraat, 1120, Villieria.  Die inskrywings vir 1957 kom op 672 leerders en 29 personeellede te staan en die skool word op die aand van 1 Februarie 1957 amptelik in gebruik geneem.  1960 word gekenmerk as die jaar van ongelooflike groei in leerdertalle met ‘n getal van 1107 ingeskrewe leerders (547 seuns en 540 meisies).  Met 37 registerklasse is vyf tydelike klaskamers en ‘n laboratorium op die speelterrein voorsien, terwyl ‘n nuwe permanente tekenkamer by die handwerksentrum aangebou is.  Die groot aantal kinders kon nie in die saal inpas nie en het leerders elke oggend in die grasvierkant aangetree vir skriflesing en gebed.  In 1959 is die skool se skoollied geskryf deur mev L Havenga en getoonset deur mnr SH Eyssen.

Met die toename in die aantal leerders is twee ander hoërskole van Oos-Moot afgestig (200 leerlinge in 1954 aan die nuutgestigte skool FH Odendaal en 100+ leerlinge in 1961 aan die nuwe Hoërskool Staatspresident CR Swart).

Januarie 2012 is gekenmerk as die skooljaar met die grootste aantal graad 8-inskrywings.  Ses nuwe klaskamers en ‘n nuwe hoofingang vir die skool is ook in hierdie jaar by die skool opgerig.  In 2014 word ‘n logo, die “Oosie-druppel” vir die skool ontwerp deur die oud-Oosie, Hannes van Eeden. Die ontwerp van die logo is deur die skoollied geinspireer.  In 2016 word ‘n krieket- en hokkieklubhuis gebou en die seuns- en dogterskleedkamers langs die LO-saal opgegradeer.  In Oktober 2017 word die skool se snoepie opgegradeer na ‘n kafeteria.

 

INTERESSANTHEDE

Die skrywer, Mikro het in 1959 die skool tydens die Taalfees kom toespreek en na die opvoering van drie toneeltjies uit die “Porseleinkat” opgestaan en ‘n belangrike aankondiging gedoen nl. dat hy die jong Hoërskool Oos-Moot as sy skool aanneem en ’n getekende eksemplaar van elke nuwe boek wat hy uitgee een aan die skoolbiblioteek sal skenk.  Hy stuur onder andere die volgende nuwe, ondertekende werke vir die skool:  “Die Weduwee Meraai”, Die Koperkant” en “Sias en Mias”.  Hierdie boeke het ‘n ereplek in die skool se biblioteek ingeneem.

Mikro (die skuilnaam van Christoffel Hermanus Kühn) was gebore op 8 Oktober, 1903. In sy leeftyd het die bekende Afrikaanse skrywer vir ons 113 boeke nagelaat. Van hom word gesê: “Om stories te vertel was vir Mikro werk, ontspanning, stokperdjie en passie”. Hy is oorlede op 17 April, 1968 en was veral bekend vir “Ruiter in die nag” (1936) en “Die jongste ruiter”(1954). In 1968 verskyn sy autobiografie van sy 65 lewensjare, met die titel “Hy koop toe vir hom ‘n pen”. Ten tyde van sy afsterwe was sy laaste boek, Ursula, nog onvoltooid en neem C.F. Beyers-Boshoff dit op hom om die laaste paar hoofstukke te voltooi, sodat die boek ook vir die nageslag behoue kon bly.