ONS GESKIEDENIS
In 2016, het Hoёrskool Oos-Moot ‘n nuwe onderwyser verwelkom, met ‘n liefde vir sy skoolvak, maar ook ‘n passie vir musiek en orkeste. So het dit gebeur dat Oos-Moot met behulp van Meneer D.J.F. Smith in 2017 ‘n ligtemusiek- ensemble sou stig.
Die ensemble sou bestaan uit 13 blaasinstrumente wat deur die skool aangeskaf sou word, en leerders geleer sou word hoe om hierdie instrumente te bespeel. Toe die aankondiging gemaak is, was daar egter so baie belangstelling dat die instrumente wat deur die skool aangeskaf is, nie genoeg sou wees nie en instrumente geleen sou moes word.
So het dit gebeur dat Oos-Moot se pionierorkes gestig is met 24 lede: 5 seuns en 19 dogters, en onder hulle, ‘n jong Meneer van der Walt as die konsertmeester. Hierdie eerste orkes het met merkwaardige geesdrif en ywer gewerk om hulle instrumente tot die beste van hulle vermoë te speel en het wat baie as die onmoontlike beskou het, verrig: ‘n Bloedjong orkes het die eerste plek in hulle kategorie behaal by die Nasionale mars-en skoolorkeskompetisie.
In 2018 het Oos-Moot se orkes, in die Oosie-ingesteldheid, na ewig-hoёr hoogtes gemik, en met hulle merkwaardige oorwinning by 2017 se SA’s, is Oos-Moot as gasheerskool gekies vir die SA’s van 2018.
Die Oosies se harde werk het weer vrugte gebaar en hulle het ‘n tweede maal in 2018 met die beker weggestap, en ‘n derde maal met die SA’s in 2019 in Durban.
Die orkes wat toe uit 46 lede bestaan het, het groot planne gehad vir 2020, maar soos baie ander skoolaktiwiteite, is die orkes onderbreek deur die koronavirus wat die wêreld getref het.
Meneer Danie Smith het ook ‘n bevorderingspos gekry aan die Hoёr-Tegniese Skool Pretoria Tuine, en het die leisels oorhandig aan Meneer Alexander de Kock, wie as afrigter gedien het van 2021 tot einde 2022.
Die orkes het in 2022 deelgeneem aan die Tshwane jeugkunstefees in die Staatsteater, en het ook ‘n derde plek verwerf vir konsertdissipline by die SA’s. Vanjaar is die stuur oorhandig aan Meneer A.G van der Walt.
VISIE VIR DIE ORKES:
Ons visie is om die orkes te ontwikkel en te vertak in ‘n orkes wat kan optree en meeding met al die ander groot skoolorkeste in die land, ‘n veldorkes wat ons sportspanne in hul spel kan ondersteun, en ‘n ensemble wat by formele, kleiner skoolgeleenthede kan optree. Om hierdie doelwitte te bereik sal instrumentale musiek in die Moot nog bevorder moet word.