Hier kan ek net myself wees: Die kunswêreld

Dis ‘n wêreld vol kleur, ‘n wêreld waar jy nie net kan voel nie, maar ‘n wêreld waar jy kan sien wat die binne jou hart aangaan.  Dis ‘n wêreld waar jy net jouself kan wees.

Die kunswêreld is ‘n plek vir die meisie met die groen verf in haar hare en die outjie wat swart ink op sy wit hemp gemors het. 

Alles om jou raak stil en jou oë glinster vol blinkheid as jy in die kunswêreld arriveer.  Jy verloor jouself of wel die persoon wat jy gedink het jy is en dan vind jy jouself, jou regte self.  Dis ‘n plek waar jy kan wees net wie jy wil wees en almal daar aanvaar jou vir wie jy is.

Dis ‘n wêreld so mooi, ‘n mens kan amper glo dat so wêreld net in sprokiesverhale voorkom, maar as jy gelukkig genoeg is en so lief is vir kuns, nes die meisie met die groen verf in haar hare of die outjie met die swart ink op sy wit hemp, dan sal jy dit dalk eendag ervaar. 

As kind het ek altyd geglo die parkie is die enigste plek waar ek ooit só gelukkig sal wees, maar die kind binne my was verkeerd, want die tienerkind binne my weet nou die kunswêreld is die enigste plek waar ek soveel geluk kan ervaar.  Die parkie se hoogste glyplank het my stukkende knieë gegee en die swaai het my laat vrees as ek te hoog begin swaai, maar die kunswêreld maak my wel die meisie met groen verf in haar hare en die meisie wat haar verfkwas kou. 

Dit sorg wel vir ‘n paar vreemde kyke van die buitewêreld.  ‘n Grap of twee word wel van my gemaak, want ek is die meisie met die groen verf in haar hare.  Hulle sal nooit verstaan nie, want die wêreld het hulle nooit gekies nie.  Hulle sal nooit die geluk kan ervaar van ‘n kwas in jou hand en jou lyf vol twintig verskillende skakerings van groen nie. 

Hulle sal nooit kan ervaar hoe dit voel om net jouself te kan wees nie.

Lara Hutchinson (Gr10 – 2021)

Lara Hutchinson