Moenie te veel daaroor dink nie – kom doen dit net! Kom duik in

So ‘n paar maande gelede het ons Granny’s Tidal Pool in Southbroom ontdek.  Hierdie is een van daai mensgemaakte seeswembaddens wat jou laat voel asof jy braaf genoeg was om reg in die middel van die see te gaan swem.  Dit word gekenmerk met die ongelooflikste seelewe ‘n skulpgooi van jou af.  Die bewys hiervoor is al die mense wat met hulle visnetjies en emmertjies daar kom ankergooi.   

Voor jy nog kon sê: “Swem!” was my ander helfte en my vyfjarige reeds besig om hierdie nuwe ontdekking te beleef en hulself te geniet.  Links van my was twee oues van dae besig met ‘n oggendswemroetine en ek…wel, ek het nog voetjies in die yskoue vlakwater gestaan, my gedagtes soos fratsgolwe wat my met die een vreesaanjaender gedagte wou afsit om verder as enkelhoogte te gaan.  Terwyl ek kop bo water probeer hou met elke gedagte van wat my alles kan byt daar onder waar ek nie kan sien nie of nog erger gedagtes aan ‘n gevaarlike seegedierte wat dalk per toeval daar beland het.  Ek kon myself nie sien om my laaste oomblikke só te spandeer nie.  Praat van dramaties!

My dogtertjie se uitbundige gelag het my na die werklikheid toe teruggeroep en dáár – slaan my met ‘n nat vis – tref dit my: Op hoeveel geleenthede van hierdie lewe mis ons nie uit nie omdat ons onsself probeer afsit met allerhande gedagtes omdat ons bang is vir wat aan die anderkant van ons seeswembadvrese lê nie?  

Besig om myself te motiveer om verder te gaan as enkelhoogte, het my gedagtes na die Oosies hier by die skool gedobber.  Ja, glo dit of nie, selfs in die vakansie dryf julle in ons onderwysers se gedagtes rond. 

Die meeste van ons Oosie-kinders is nie bang nie en laat hulle beslis nie afsit met allerhande opmaak-see-ondier-gedagtes nie.  Hulle duik oop-oë, kop eerste in en geniet hulself een honderd persent hier in die golwe van die blou see terwyl die res van ons, soos hierdie juffrou van julle soms ook, uitmis op die grootste pret omdat ons kies om aan die veilige maar vervelige kant te staan.  Net daar het ek my paddavoet neergesit en besluit dat ek ook wil deel wees van die pret en uitbundigheid. 

Julle sal nie glo nie, ek het al my moed bymekaar geskraap en alle vreesgedagtes in ‘n haainet gesit en dit styf toegetrek en ingevaar in daai seeswembad in – oombliklik so tuis soos ‘n vis in die water.  Dit was die hoogtepunt van my vakansie om in daardie yskoue water rond te dryf met die son wat warm op my vel bak en my gedagtes al drywend saam met my.  Ek heg graag die bewyse hiervoor aan vir diegene wat my nie glo nie.

Mag nie een van ons Oosies ooit weer uitmis op die opwindende dinge wat die lewe soms op ‘n skinkbord vir ons aanbied, net omdat ons bang is nie.  Van nou af hou ons ons oë op die horison en ons drome in ons hande sodat ons gereeld daarna kan kyk om onsself te herinner om die dinge van die lewe voluit aan te pak – al moet ons aanvanklik ons vlerkies aansit en iemand se hand vashou.  Moenie te veel daaroor dink nie, kom duik saam met my in en gryp van nou af elke goeie geleentheid wat oor jou pad kom.

Ek laat julle met ‘n laaste gedagte van W.N Clark: “Geloof is die moed om dit verder te waag as wat jy kan sien.”  

Crisna Bezuidenhout