NETBAL

Fotokrediet:  Oosie Media – Anri Venter en Luca Kruger

Die o.16A-SPAN MAAK GESKIEDENIS DEUR 6DE TE EINDIG TYDENS DIE SA SKOLE NETBALKAMPIOENSKAPPE 2025

Twee van ons netbalspanne het deurgedring na die Gauteng Kampioenskappe in Junie 2025.

‘n Ongelooflike jaar vir Oos-Moot se netbal waar ons op meer as een geleentheid geskiedenis maak! 

Die o.16A-span lewer die volgende uitstaanprestasies in 2025:  
Suid-Afrikaanse Netbalkampioenskappe – 6de in Suid-Afrika.
Gauteng Kampioenskappe – 1ste in Gauteng
Wildeklawertoernooi 2025 – Eerste uitnodiging na die toernooi waar hul die naaswenners in hul ouderdomsgroep was en een van hul speelsters, Mia Steenkamp, as die beste o.16 verdediger van die toernooi aangewys is.
NWU-reeks wenners vir die tweede opeenvolgende jaar.

Die eerste span dring ook deur na die Gauteng Kampioenskappe waar hul die sesde plek behaal. 

Netbal by Oos-Moot: Meer as net ‘n spel

By Hoërskool Oos-Moot glo ons dat netbal soveel meer is as net wat op die baan gebeur. Dit is ’n platform vir groei, karakterbou en die ontwikkeling van lewenslange waardes. Ons spelers slyp nie net hul fisieke vaardighede nie, maar leer ook belangrike lewenslesse – soos spanwerk, verantwoordelikheid, deursettingsvermoë en die waarde van lojaliteit. Elke speler dra ‘n rol in haar span en leer om saam te werk vir ’n gemeenskaplike doel, ongeag die uitslag.

Vir baie van ons dogters is netbal nie net ‘n skoolsport nie, maar die begin van ’n lewenslange liefde vir die spel – of dit nou as speler, afrigter of entoesiastiese ondersteuner is. Die positiewe invloed van netbal strek ver buite die vierhoeke van die baan.

Die 2025-seisoen eindig op ’n hoogtepunt

Die nuwe seisoen het afgeskop met opwindende mylpale: ’n rekordgetal Oosie-spelers het vir die eerste keer in ons geskiedenis die finale rondte van die Gauteng-proewe gehaal. Die o.16A-span het hul titel suksesvol verdedig en vir die tweede agtereenvolgende jaar as wenners van die NWU-reeks uit die stryd getree. Die eerstespan het ’n knap tweede plek behaal in hul afdeling – ‘n prestasie wat hul ervaring en vasberadenheid bevestig.

’n Gedenkwaardige oomblik vir twee spelers was Aretha de Beer en Kathleen Taljaard se 50ste wedstryd vir die eerstespan – gespeel op 20 Maart 2025 tydens die NWU-reeks. Albei is sedert 2023 trotse lede van hierdie span en hul lojaliteit en toewyding is werklik bewonderenswaardig.  Mieke van Heerden het teen die einde van die seisoen (Gauteng Kampioenskappe) ook haar 50ste wedstryd vir die eerste span gespeel. 

Nog ’n hoogtepunt van die seisoen was die o.16A-span se deelname aan die gesogte Wildeklawer-toernooi in Kimberley – die eerste keer dat Oos-Moot genooi is om aan dié elite geleentheid deel te neem. Die span het met trots as naaswenners geëindig en die silwermedalje verwerf. In ‘n naelbyt eindstryd teen Helpmekaar Kollege is hulle met slegs een punt geklop (24–23). ’n Spesiale gelukwensing aan Mia Steenkamp, wat aangewys is as die beste o.16-verdediger van die toernooi.  .

Tshwane uitspele:  Die o.19A en o.17A-spanne dring deur na die Tshwane uitspele wat op 7 Junie plaasgevind het.  

Gauteng Kampioenskappe:  Vir die eerste keer in die geskiedenis van ons skool dring TWEE spanne deur na die Gauteng Kampioenskappe!

Die o.16A-span maak geskiedenis en stap weg met GOUD (wenners) van die Gauteng Kampioenskappe in Junie en dring deur na die Suid-Afrikaanse kampioenskappe op 1 en 2 Augustus.  Die Gautenguitslae was soos volg:

🥇Oos-Moot 🇿🇦
🥈AHMP 🇿🇦
🥉Helpmekaar 🇿🇦
🏅Noordheuwel 🇿🇦
🏅Monument
🏅Linden
🏅EG Jansen
🏅Dinamika

Die eerste span eindig hul seisoen met die sesde plek tydens dié kampioenskappe teen die topskole in die provinsie. 

🥇AHMP 🇿🇦
🥈Menlopark 🇿🇦
🥉Noordheuwel 🇿🇦
🏅Randpark 🇿🇦
🏅Helpmekaar
🏅Oos-Moot
🏅Garsfontein
🏅Redhill

Ons is ongelooflik trots en waardeer elke speler, afrigter, ouer en ondersteuner wat betrokke is by ons sport.

Suid-Afrikaanse Skole Netbalkampioenskappe – Uitstaande netbalprestasie
Ons o.16A-netbalspan het tydens die Suid-Afrikaanse Skolekampioenskappe ’n uitsonderlike prestasie gelewer en sesde in die land geëindig ná die volgende top skole:

1.AHMP
2.Helpmekaar
3.Monument
4.Durbanville
5.Paarl Gimnasium
6.Oos-Moot

’n Prestasie waarop ons uiters trots is – welgedaan aan elke speler en afrigter!

🏐 2025 FAST5 Netbal: o.18 Oosies Dring Deur na Tshwane-Uitspele!

Die o.15- en o.18-spanne het met uitmuntende spel hul plek in die Fast5-distrikuitspele verseker en deurgedring na die Tshwane-uitspele wat op 5 September by Hoërskool Menlopark plaasgevind het.

Slegs die top vier spanne in elke ouderdomsgroep het deurgedring – ’n merkwaardige prestasie waarop ons Oosies trots kan wees! 

Die o.18 Fast Five span het op 5 September tydens die Tshwane uitspele uitstekend presteer.  Hulle eindig 3e en gaan deur na die Fast Five Gauteng uitspele op Saterdag 13 September. Ons is baie trots op julle en sien uit na die volgende rondte. Die span het uitstekend presteer en hul uitlae is as volg:
1ste wedstryd:  OM vs Garsfontein (Wen 25-22)
2de wedstryd (Semi’s): OM vs Menlo rooi (Verloor 19-26)
3de wedstryd (Finaal): OM vs Montana Groen (Wen 25-20)
 
’n Terugblik op ’n die 2024-seisoen

Die 2024-netbalseisoen was propvol ontwikkeling, harde werk en sukses. Die jaar het afgeskop met ons deelname aan die NWU-reeks – ’n nuwe uitdaging teen sterk teenstanders. Ons het algeheel derde geëindig, en waardevolle ondervinding opgedoen op ’n hoër kompetitievlak.

Tydens die ligaseisoen het al ons spanne hul staal gewys. Ons het algeheel sesde geëindig – ’n beduidende verbetering van ons agtste plek in die vorige seisoen. Hierdie vordering weerspieël die toewyding van beide spelers en afrigters.

Twee spanne het besonders uitgeblink:

  • Die o.14A-span het hul plek in die Tshwane-uitspele verwerf – ’n bewys van hul talent en volharding.

  • Die o.15A-span het die liga gewen en tydens die SA-kampioenskappe vyfde in Suid-Afrika geëindig – vir die tweede opeenvolgende jaar ’n merkwaardige prestasie!

Ons spelers het nie net met hul spel beïndruk nie, maar ook met hul houding en sportmangees. Hulle is ware ambassadeurs van Oos-Moot. ’n Groot dankie aan ons afrigters en ouers – julle steun vorm die fondament van ons netbalsukses.

Die toekoms lyk blink

Met sulke sterk fondamente en groei in elke ouderdomsgroep sien ons met groot opgewondenheid uit na die res van die 2025-seisoen. Ons netbalfamilie is aan die groei – en ons is gereed om elke uitdaging met trots, passie en vasberadenheid aan te pak.

 

o.16A-span 2025
Spelers:  Elize Adams, Lana Love, Telana Breytenbach, Jaimé Marshall, Katelynne Jeffery, Megan Ferreira en Mia Steenkamp (tweede regs voor – aangewys as die beste o.16 verdediger tydens die Wildeklawertoernooi 2025).  Afrigter en spanbestuurder: S Visser en C Ludick

o.16A-afrigtingspan 2025
Me S Visser, Me C Ludick en Me A du Plessis

 

Aretha de Beer en Kathleen Taljaard
50ste wedstryd vir die eerste span (20 Maart 2025)

o.19A netbalspan dring deur na die Gauteng Kampioenskappe 2025!

Me C Louw</span
Organiseerder
netbal@oos-moot.co.za