LANDLOOP

Landloop by Hoërskool Oos-Moot is veel meer as net ‘n wintersport. Dit is ‘n sport wat karakter bou, deursettingsvermoë ontwikkel en leerders leer om hul fisiese en geestelike grense te verskuif. Ons atlete neem jaarliks deel aan hoogs mededingende byeenkomste soos die NWU-reeks, Noordvaaltoernooie en die Gauteng-Noord Skoleliga, waar hulle hulself teen van die beste landlopers in die provinsie meet.

Die Oosie-landloopprogram bied geleenthede vir beide junior en senior seuns en meisies om hul talent te ontwikkel en op verskillende vlakke mee te ding. Deur gestruktureerde afrigting en toegewyde voorbereiding word nie net prestasie nagestreef nie, maar ook die waardes van dissipline, selfvertroue en spanondersteuning gevestig.

Me M Steyn
Organiseerder
landloop@oos-moot.co.za

Me R Thomas
Afrigter

Seisoenstruktuur

Die skoleliga begin in die derde kwartaal, en bestaan uit vier ligawedlope, asook ’n +2km Dash-item. Deelname vind plaas in die volgende vier kategorieë:

Junior seuns en dogters: o/14 en o/15
Senior seuns en dogters: o/16 tot o/19

2026

Liga 1

Die seisoen is afgeskop met die eerste liga by Prestige College.

  • Senior Seuns (296 atlete): JM Maritz (14de), Daniel Esterhuizen (47ste)
  • Junior Dogters (214 atlete): Mizaan Louwies (11de), Lana du Plessis (43ste)
  • Junior Seuns (206 atlete): Ruben Esterhuyse (45ste), Willem van der Merwe (46ste), Adriaan Maxwell (60ste)

Op 5 Augustus tydens die derde skoleliga by Tuks is mooi prestasies gelewer.

  • JM Maritz het ‘n uitstekende 6de plek in die o.19-afdeling behaal
  • Chanelle Groenewald eindig 9de.
  • Leandri Robinson en Alex Deysel het ook sterk vertonings gelewer met onderskeidelik 22ste plekke.

Spanplasings:  Junior Meisies: 21ste, Junior Seuns: 11de, Senior Meisies: 12de en Senior Seuns: 17de

Liga 2

Ons landloopatlete toon goeie vordering tydens die tweede en derde skolelandloopligas.  

Ons kon vier volledige spanne, met minstens vier atlete per span, inskryf. Die Senior Seunsspan het selfs uit ses atlete bestaan.

Verskeie atlete het besonder goed presteer:

  • Mizaan Louwies – 2de plek (O.14)
  • Chanel Groenewald – 6de plek (O.16)
  • Daniel Esterhuizen – 12de plek

Mizaan en Daniel het albei hul posisies sedert die vorige liga met meer as twee plekke verbeter – ’n goeie aanduiding van hul harde werk en volgehoue ontwikkeling.

Liga 3

Die derde skolelandloopliga is op 5 Augustus by Tuks aangebied. Ten spyte van sterk kompetisie het die Oosie-atlete weer goeie deursettingsvermoë getoon en waardevolle wedloopervaring opgedoen.

JM Maritz het een van die hoogtepunte van die dag gelewer met ’n uitstekende 6de plek in die o.19-afdeling.

By die senior meisies het Chanel Groenewald ’n indrukwekkende 9de plek behaal, terwyl Leandré Robinson en Alex Deysel albei die 22ste plek behaal het.

Die spanplasings was:

  • Junior Meisies – 21ste
  • Junior Seuns – 11de
  • Senior Meisies – 12de
  • Senior Seuns – 17de
AGN Landloop Kampioenskappe 2026
Vier Oosies is in die Top 15 by die AGN Landloop Kampioenskappe wat by Curro Hazeldean plaasgevind het.
 
3de plek – Chanel Groenewald
9de plek – Mizaan Louwies
11de plek – JM Maritz
13de plek – Alex Deysel
 
NWU gemengde afloskampioenskappe

Op 22 Augustus presteer ons landloopatlete uitstekend presteer tydens die NWU-aflosbyeenkoms, met ons gemengde aflosspan wat as kampioene uit die stryd getree het!

  • Gemengde aflosspan – 1ste plek
  • Dogterspan – 8ste plek
  • Seunspan – 17de plek
Voorseisoen

Hoewel die formele skolelandloopliga nog nie afgeskop het nie, het die Oosie-atlete reeds hul staal gewys tydens verskeie klub- en voorseisoenbyeenkomste. Ons atlete het Gauteng-Noord met trots by die Interprovinsiale Veldloopkampioenskappe verteenwoordig.  Om vir hierdie span te kwalifiseer en op hierdie vlak deel te neem, is reeds ‘n besondere prestasie. Top 10-prestasies:  JM Maritz (4de plek, Mans o.20) en Mizaan Louwies (6de plek, Dogters o.14).  Merkwaardige prestasies. Ons atlete het sterk meegeding by die NWU-reeks, die Menlopark-aflos en die byeenkoms by Sutherland, waar verskeie Oosies uitstekende uitslae behaal het. Uitstaande prestasies sluit in Mizaan Louwies se podiumplek met ‘n derde plek, Evan Cilliers se vyfde plek, asook sterk vertonings deur JM Maritz en Daniël Esterhuizen.

Ons is besonder opgewonde oor die uitbreiding van ons afrigtingspan met die aanstelling van me. R Thomas, asook die toevoeging van me. R van der Walt en me. M van Deventer. Hul ervaring, passie en nuwe energie dra reeds by tot die groei en ontwikkeling van die program.

Met die skoleliga wat binnekort afskop, sien ons met groot opgewondenheid uit na die seisoen wat voorlê. Die toenemende deelname, entoesiasme en positiewe momentum rondom die program bevestig dat Oosie Landloop besig is om sterk te groei en op pad is na ‘n opwindende nuwe era.

2025

Prestasies en Hoogtepunte

Oos-Moot se landlopers het die afgelope paar jaar hul merk op provinsiale en nasionale vlak gemaak. Tydens die NWU 4 km-reeks het die senior seuns- en dogtersspanne ‘n uitstekende 4de plek algeheel behaal, terwyl die junior spanne 5de algeheel geëindig het. Die skool se landloopspan het ook ‘n indrukwekkende 5de plek algeheel in die reeks verower.

By die Noordvaal-kompetisie het Oos-Moot se dogtersspanne uitstekend gevaar met die eerste span wat 9de uit 29 skole geëindig het, terwyl die tweede span ‘n 18de plek behaal het.

‘n Besondere hoogtepunt vir die program was die uitsonderlike prestasie van Chanel Groenewald, wat by die 2025 Suid-Afrikaanse Landloopkampioenskappe ‘n silwermedalje in die 2 km Dash verower het en ook 5de in Suid-Afrika geëindig het in die 4 km o.16-dogterswedloop. Hierdie prestasie bevestig die gehalte van die talent wat binne die Oosie-landloopprogram ontwikkel word.

Chanel se sukses bou voort op ‘n indrukwekkende rekord van prestasie nadat sy reeds as jong atleet ‘n Gauteng-Noord Prestige-toekenning ontvang het deur onder die top landlopers in haar ouderdomsgroep te eindig.