KRIEKET (Seuns/Dogters)

Oos-Moot se krieketspanne neem jaarliks deel aan mededingende skoolligas en wedstryde teen van die streek se sterkste skole. Hierdie blootstelling bied aan ons spelers die geleentheid om hul vaardighede teen hoë gehalte opposisie te toets en voortdurend te ontwikkel. Die skool spog met ses seunsspanne in die ouderdomsgroepe o.14 tot o.19, asook ’n groeiende dogtersspan wat met trots aan die krieketprogram deelneem. Met goeie fasiliteite en ’n gevestigde sportkultuur vorm krieket ’n integrale deel van die Oosie-sportervaring.

SEUNS

Mnr J Redelinghuys
Organiseerder (Seuns en dogters)
krieket@oos-moot.co.za

2026 – Bou aan ‘n trotse krieketerfenis

Krieket by Hoërskool Oos-Moot beleef tans ‘n opwindende tydperk van groei en ontwikkeling. Die 2026-seisoen het reeds op 4 Januarie afgeskop toe verskeie spanne op voorseisoentoere vertrek het om hul voorbereiding vir die jaar te begin. Die eerste span het uitstekend gevaar tydens die gesogte Kovsie Smash, waar hulle hul beste prestasie nóg behaal het deur vyfde uit 18 deelnemende skole te eindig.

‘n Belangrike mylpaal vir Oos-Moot Krieket was die eerste span se eerste deelname aan die Daisy Cup gedurende die tweede kwartaal. Die span het deurgaans uitstekende karakter, deursettingsvermoë en spanwerk getoon en die halfeindronde gehaal – ‘n besondere prestasie wat die positiewe ontwikkeling van die krieketprogram bevestig.

Die skool beskik tans oor ses krieketspanne – drie junior- en drie seniorspanne – met altesaam 75 spelers wat die sport beoefen. Hierdie sterk deelname skep ‘n gesonde ontwikkelingspyplyn waar spelers geleentheid kry om hul vaardighede te ontwikkel, wedstrydervaring op te doen en geleidelik deur die ouderdomsgroepe te vorder. Hoërskool Oos-Moot neem gedurende die derde kwartaal in die B-afdeling van die krieketliga deel, waar daar teen Hoërskool Montana, Hoërskool Centurion, Hoërskool Zwartkop en Midstream College meegeding word.

Oosie Bash

Een van die grootste hoogtepunte van die jaar was die bekendstelling van die Oosie Bash.  Die eerste interne T20-kriekettoernooi van sy soort in die Moot-omgewing. Die toernooi is ontwerp om spelers, afrigters en ouers op ‘n unieke manier bymekaar te bring en terselfdertyd ‘n professionele franchise-atmosfeer te skep.

Altesaam 61 spelers het aan die Oosie Bash toernooineem aan die toernooi deel en word deur middel van ‘n speler- en afrigtersveiling aan vier franchises toegewys. Ouers tree as spaneienaars op en dra by tot die besondere ervaring. Die franchises – Moot Mavericks, Rietfontein Ratels, Queenswood Capitals en Villieria Super Kings – bestaan elk uit ‘n gebalanseerde groep o.14-, o.15- en senior spelers wat oor vyf dae in ‘n T20-formaat meeding. Die toernooi word jaarliks gedurende die laaste week van Junie aangebied en het reeds ‘n hoogtepunt op die Oos-Moot sportkalender geword.

Die eerste Oosie Bash was ‘n groot sukses en het ‘n week van opwindende krieket, gesonde kompetisie en uitstekende skoolgees opgelewer. Die Villieria Super Kings het geskiedenis gemaak deur die eerste Oosie Bash-titel te verower met ‘n oorwinning oor die Rietfontein Ratels in die eindstryd.

Aiden Thijs is as Bouler van die Toernooi aangewys nadat hy agt paaltjies gedurende die week geneem het, terwyl Marnus Broodryk met 278 lopies in vyf wedstryde die toekennings vir Kolwer van die Toernooi én Speler van die Toernooi ontvang het.

Die Oosie Bash het hom reeds as ‘n hoogtepunt op die Oos-Moot sportkalender gevestig en ons sien met groot afwagting uit na volgende jaar se toernooi.

‘n Hartlike woord van dank aan al ons ouers, leerders, personeel en borge – Donato Logistics, Koopkrag en Centurion Cricket Company – wie se ondersteuning hierdie onvergeetlike week moontlik gemaak het.

Oosie-krieket bou sterk momentum

Ons krieket toon goeie groei en sterk vorm, met verskeie spanne wat gedurende Augustus uitstekende oorwinnings behaal het. Wat veral opval, is die diepte van ons krieketprogram – van die o/14- en o/15-spanne tot die senior spanne.  Die uitslae in Augustus sluit oortuigende oorwinnings met beide paaltjies en lopies in, wat getuig van ’n goeie balans tussen ons kolf- en boulwerk.

Die o/14A-span se oorwinning met 166 lopies, asook verskeie oorwinnings met vyf of meer paaltjies, beklemtoon die positiewe momentum wat tans binne Oosie-krieket heers. Met jong talent wat reeds sterk na vore tree en spanne wat konsekwent kompeteer, lyk die toekoms van ons krieket besonder belowend.

Uitblinker spelers

Verskeie spelers het reeds gedurende die seisoen uitstekende vertonings gelewer. Marnus Broodryk en Liam du Preez van die eerste span tel onder die voorste presteerders met indrukwekkende lopie- en paaltjiestatistieke. Marnus het reeds in 2025 provinsiale erkenning ontvang toe hy vir die Titans o.15-span gekies is.

Afrigtingspan

Die sukses van Oos-Moot Krieket word ondersteun deur ‘n ervare en toegewyde afrigtingspan. Die hoofafrigters is:

  • Mnr J Redelinghuys – Vlak 2-afrigter met internasionale afrigtingservaring.
  • Mnr L Booysen – Tweemalige Noordvaal-wenafrigter.
  • Mnr J Boshoff
  • Mnr J Neethling – Vlak 2-afrigter en voormalige Lions-provinsiale afrigter.
  • Mnr F Massyn – Vlak 2-afrigter.

Die program word verder versterk deur buite-afrigters mnre J de Bruyn, D Corbett, E Visagie, T Gouws (voormalige Titans Colts-speler met internasionale ervaring in Engeland en Noord-Ierland), R Spies en S Oosthuizen, wat vanaf die derde kwartaal by die afrigtingspan aansluit.

Met sterk leierskap, groeiende deelname, uitstekende prestasies en innoverende projekte soos die Oosie Bash, is Hoërskool Oos-Moot se krieketprogram besig om hom as een van die voorste ontwikkelende krieketprogramme in Pretoria te vestig. Die toekoms van Oos-Moot Krieket lyk besonder belowend.

2025

Die 2025-krieketseisoen het vanjaar vroeg afgeskop, met die eerste wedstryd reeds op 4 Januarie. Die jaar het die vooruitgang van Oos-Moot se krieket duidelik gewys – ons het groot wenne behaal en die algehele prestasies het die groei van die program beklemtoon. Meer seuns sluit jaarliks by die sport aan, wat ons krieketprogram steeds versterk.

Prestasies

  • o.15-groep wen die Finbury-reeks aan die begin van die jaar met die uitblinkers M Broodryk, I Labuschagne en C van Heerden. 
  • M Broodryk is die eerste Oos-Moot Titans o.15-speler wat verkies is vir die provinsiale week in Desember.
  • M Broodryk en I Labuschagne het ingeskakel by die eerste span waar M Broodryk as top scorer en I Labuschagne as o.15 bowler van die jaar aangewys is (meer as 40 paaltjies).
  • Eerste span wen die Finbury-reeks asook die promosie\relugasiewedstryd teen Hoërskool Linden wat beteken dat ons in 2026 teen sterker kompetisie deelneem.
  • Eerste span eindig tydens die Kovsie Smash 9de uit 20 skole.  

Uitblinkers

  • Beste Senior Speler: D Corbett

  • Beste Junior Speler: M Broodryk

  • Beste Senior Kolwer:  R Spies

  • Beste Junior Kolwer:  M Broodryk

  • Beste Senior Bowler: E Theron

  • Beste Junior Bowler: I Labuschagne

DOGTERS

Ons streef daarna om ‘n omgewing te skep waar ons dogters nie net as atlete nie, maar ook as selfversekerde en verantwoordelike individue groei.  Ons is trots op die vordering en prestasies van ons dogterskrieketspan en sien uit na ‘n toekoms vol verdere groei en suksesse in hierdie opwindende sport.

Ons eerste dogterskrieketspan bestaan uit ongeveer 20 toegewyde spelers wat met passie en deursettingsvermoë aan die sport deelneem. In 2023 het ons ’n opwindende stap geneem deur ’n afrigter van die Titans-dameskrieketspan te betrek, wat ons spelers blootgestel het aan die nuutste tegnieke en strategieë in die spel. Alhoewel baie spelers reeds krieketervaring het, fokus ons sterk op die ontwikkeling van fundamentele vaardighede en ’n diep begrip van die spel.

  • Oefensessies en proewe vind tradisioneel in Augustus plaas.

  • Ligawedstryde word hoofsaaklik in die vierde kwartaal aangebied.

  • Gedurende die seisoen neem die span deel aan 4–6 wedstryde, wat spelers die kans gee om hul vaardighede in ’n mededingende omgewing te toets en te verbeter.

2026

Dogterskrieket is een van die nuutste en vinnigste groeiende sportkodes by Hoërskool Oos-Moot. Ongeveer 16 dogterspelers oefen sedert April onder leiding van me T van den Heever, ‘n huidige Titans-vrouespeler. Die skool beoog om gedurende die derde kwartaal ‘n uitnodigingstoernooi teen skole soos Wonderboom, Montana en Pretoria-Tuine aan te bied. Die langtermynvisie is om die sport verder uit te brei, meer dogters te betrek en uiteindelik ook aan toere en groter kompetisies deel te neem.

Ons Dogters 1ste Krieketspan het ’n uitstekende vertoning gelewer en Hoërskool Tuine met 54 lopies geklop!

  • Oos-Moot: 168/3 in 20 beurte
  • HS Tuine: 114/3 in 20 beurte

2025 

Die dogterskrieketspan het die liga met groot geesdrif afgeskop.

  • Die wedstryd teen Curro Hazeldean B het ons dogters met 9 paaltjies gewen  ’n Fantastiese vertoning met uitstaanspelers wat regtig hul merk gemaak het.
  • Laudium was formidabele teenstanders waar ons die knie moes buig.

Die span toon ongelooflike groei en spanwerk – hierdie seisoen beloof groot dinge!

Buite-afrigter van formaat

Me T van der Heuvel het haar krieketloopbaan reeds as tiener begin toe sy op 16 vir die Nasionale o.19-span gekies is. Sy was die topkolfspeler in die Nasionale o.19-kampioenskap en is as die beste jong speler in die streekliga aangewys. Haar uitstekende prestasies het daartoe gelei dat sy vinnig na die senior nasionale span bevorder is, waar sy haarself as ’n waardevolle speler gevestig het.

Tiani is bekend vir haar kragkolfwerk, tegniese vernuf en haar vermoë om speletjiesituasies vinnig te lees. Hierdie vaardighede maak haar ’n veelsydige en dinamiese speler.

Buite die veld is sy ’n rolmodel vir jong krieketspelers en betrokke by gemeenskapsprogramme om die sport te bevorder. Sy glo vas dat krieket nie net talente ontwikkel nie, maar ook lewenslesse leer en gemeenskappe versterk.

Met haar ervaring, toewyding en passie is Tiani ’n waardevolle toevoeging tot ons dogterskrieketprogram by Hoërskool Oos-Moot.

Eerste span spelers:  Nicole van Deventer, Monique Stelling, Bella Warlde, Sunel Willemse, Kelly Liddle, Zania Kotze, Kaylee De Clercq, Taylinn Nieuwenhuizen, Karla Vermeulen, Megan Botha en Zané Grobler