REVUE EN ALL STARS

By Oos-Moot is ons Revue meer as net ’n skoolproduksie — dit is ’n viering van ons leerders se kreatiwiteit, deursettingsvermoë en samewerking en word elke tweede jaar aangebied. Hierdie platform bied leerders die geleentheid om hul talent in sang, dans en drama ten volle uit te leef.

Die reis begin reeds in die vorige akademiese jaar, wanneer leerders oudisies aflê om deel te word van die Revue-groep. 

Deelnemers oefen weekliks en wy hul Junie/Julie-skoolvakansie op aan intensiewe inoefening en klankopnames. Hierdie tydperk is van kardinale belang vir die inskerp van choreografie, vokale tegniek en verhoogaanbieding, wat die grondslag lê vir ’n suksesvolle produksie.

REVUE

Me L Bouwer
Revue organiseerder
kultuur@oos-moot.co.za

Kompetisies:

Die Revue-groep neem deel aan die Suid-Afrikaanse Skole Revue Kampioenskappe, waar hulle hul talent op ’n nasionale platform ten toon stel. Hierdie kompetisie is oop vir laer- en hoërskole en is onderverdeel in drie afdelings:

  • Junior Revue: Graad 1–4

  • Senior Revue: Graad 5–7

  • Hoërskole: Graad 8–12

Deelnemende skole word beoordeel op aspekte soos kreatiwiteit, samewerking, verhoogaanbieding en tegniese uitvoering. Wennergroepe in elke afdeling ontvang kontantpryse en nasionale erkenning vir hul uitmuntende prestasies. 

Revueproduksies

Vivre La Vie

Die 2025 Revue-produksie, Vivre La Vie (“Leef die Lewe”), het die gehoor meegevoer op ’n inspirerende reis wat die vreugde, energie en skoonheid van die lewe gevier het. Met 123 talentvolle leerders op die verhoog het die produksie die ware gees van Oos-Moot se kultuurlewe weerspieël: passie, kreatiwiteit en samehorigheid.

Deur ’n dinamiese kombinasie van musiek, dans en dramatiese uitbeelding is die boodskap oorgedra dat elke oomblik van die lewe waardevol is en ten volle beleef moet word. Die kleurvolle kostuums, energieke choreografie en indrukwekkende verhoogproduksie het saamgesmelt om ’n onvergeetlike ervaring vir deelnemers en gehoorlede te skep.

Vivre La Vie was meer as net ’n vertoning – dit was ’n viering van jeug, drome en die wonder van saam groei, leer en leef.

One World

Die 2024 Revue-produksie, One World, het ’n besondere mylpaal in Oos-Moot se revuegeskiedenis bereik. Met 139 deelnemende leerders was dit die grootste revuegroep sedert die ontstaan van die skool se Revue in 2003.

Onder die tema One World is die ryk verskeidenheid van wêreldkulture gevier, terwyl die universele waardes wat mense oor grense heen verbind, beklemtoon is. Die produksie het die gehoor op ’n kleurvolle reis geneem deur verskillende lande, tradisies en musiekstyle, en het die boodskap uitgedra dat ons, ondanks ons verskille, deel is van een wêreldgemeenskap.

Onder die kundige leiding van ons choreograaf  is maande se harde werk, toewyding en passie in ’n uitsonderlike verhoogproduksie omskep wat in Augustus 2024 met groot sukses aangebied is.

Prestasies en Erkenning

Oos-Moot se Revue-groep geniet reeds jare lank erkenning as een van die voorste skoolrevues in Suid-Afrika. Die skool se toewyding aan uitnemendheid, kreatiwiteit en professionele verhoogkuns word jaarliks op nasionale vlak beloon.

By die Suid-Afrikaanse Skole Revue Kampioenskappe 2024 het Hoërskool Oos-Moot ’n uitstekende derde plek in die hoërskole-afdeling behaal. Hierdie prestasie getuig van die talent, deursettingsvermoë en harde werk van elke leerder, afrigter en ondersteuner wat deel van die produksie was.

ALL STARS

Die All Stars is ’n toonbeeld van talent en toewyding en hierdie elite-groep word uit die groter Revue-groep gekies.  Hul verteenwoordig die skool in prestige verhoogkompetisies soos Kaleidoscope en 8 Beats. Die All Stars verpersoonlik kreatiwiteit, dissipline en is Oos-Moot se trots. 

Me C Botha
All Stars organiseerder
c.hoek@oos-moot.co.za

Prestige Kompetisies

Kaleidoscope Kompetisie
’n Verhoogkompetisie wat skole uitdaag om ‘n balans te vind tussen kreatiwiteit en professionele uitvoering.  

8 Beats Revue Competition
’n Energieke kompetisie waar jong kunstenaars hul sang- en dansvaardighede op ’n professionele verhoog demonstreer. Hierdie glansryke gebeurtenis lok groot gehore en gee leerders ’n unieke verhoogervaring.

Toewyding & Oefening

Die All Stars oefen intensief deur die jaar om op die hoogste standaard te presteer. Hul voorbereiding sluit choreografie, klankopnames en verhoogvaardighede in—alles om ’n glansryke, professionele produksie te verseker.

Prestasies

Die All Stars het in 2025 mooi hoogtes bereik.

  • 1ste plek – Advanced by Tshwane Youth Arts Festival Kaleidoskoop

  • 3de plek – 8 Beats, Gold Reef City

  • 2de plek – Suid-Afrikaanse Revuekampioenskappe

SANGGROEP 2026

Die All Stars Sanggroep vir 2026 is aangewys en die opnames word in die Junie/Julie vakansie afgehandel.

OPTREDES