♟️ Skaak by Hoërskool Oos-Moot – Strategie, fokus en uitnemendheid op elke bord
Skaak is veel meer as net ’n bordspeletjie – dit is ’n intellektuele sport wat logiese denke, probleemoplossing, konsentrasie en selfdissipline ontwikkel. By Hoërskool Oos-Moot groei skaak jaarliks in gewildheid én in prestasie. Ons trotse skaakprogram weerspieël die skool se strewe na uitnemendheid, of jy nou ’n nuweling of ’n meester-in-wording is.
🧠 ’n Passievolle afrigter is die dryfkrag agter die sukses – Christiaan Linde oud-Oosie ploeg terug!
Ons skaakspelers se uitsonderlike prestasies het nie vanself gekom nie. Die enjin agter hierdie opbloei is die afrigter Christiaan Linde (trotse oud-Oosie) en sy afrigtingspan. Christiaan het ‘n onafhanklike skaakonderneming Yes4Chess gestig en rig weekliks sowat 300 leerders af. Hoewel sy onderneming by verskeie hoërskole en gespesialiseerde instellings soos Unica – skool vir leerders met outisme betrokke is, beskou Christiaan sy alma mater, Hoërskool Oos-Moot, as sy vlagskipprojek – die plek waar hy skool gegaan het en nou met trots terugploeg.
Christiaan en sy span fokus ook op die ontwikkeling van skaak in verskeie skole in die omgewing, insluitend Laerskool Villieria, Voorpos, Pierneef en Eduplex – belangrike voedingskole vir Oos-Moot. Hy is sedert sy matriekjaar betrokke by skaakafrigting en het onlangs ‘n lang gekoesterde droom verwesenlik deur ‘n jeugprogram tot stand te bring by die Pretoria Skaakklub – die oudste van sy soort in Suid-Afrika. Hier bied hy en sy span gevorderde, individuele aandag aan jong spelers in ‘n omgewing waar toewyding en entoesiasme hand aan hand gaan.
Yes4Chess se afrigters is jonk, idealisties en gee doelgerigte aandag aan elke leerder, maar sonder om die emosionele welstand van die kind prys te gee. Christiaan glo vas dat die vreugde wat beide afrigter en leerder uit skaakonderrig put, die geheime wapen van hul sukses is.
Die ondersteuning van die skoolgemeenskap, asook die betrokkenheid van ouers en voogde, speel ‘n onmisbare rol in die sukses van skaakontwikkeling.
🌐 www.yes4chess.co.za
Oefentye
Dae : Dinsdae en Donderdae
Tyd : 14:00 tot 16:00
Plek : K81
🏆2025: ’n Seisoen sonder weerga!
In April 2025 het Hoërskool Oos-Moot geskiedenis gemaak toe die skool sy eerste nasionale skaakspeler opgelewer het. Skaars twee weke later het Oos-Moot se skaakspan ‘n silwermedalje verower by die gesogte NWU-reeks in Potchefstroom – ‘n toernooi waaraan van die top hoërskole in die land jaarliks deelneem. Verskeie bekende skaakskole moes dié keer die knie buig voor Oos-Moot se nederige, maar uiters bekwame span.
Reeds vroeg in die 2025-seisoen is Oos-Moot se skaakprestasies indrukwekkend:
-
♟️ Bonicia du Toit (Gr. 11) kwalifiseer vir die South African Junior Closed Chess Championship 2025 en eindig 7de algeheel – ’n uitsonderlike prestasie.
-
🏅 Bonicia ontvang nasionale kleure en staan ’n moontlike verteenwoordiging by die 2026 Commonwealth Games te wag.
-
🥈 Tydens die 2025 NWU-reeks behaal die skaakspan ’n silwermedalje.
-
🏆 Bordwenners: Bonicia du Toit (Gr. 11) en Ryan Berry (Gr. 9)
- 🥈 o.17 Dogtersspan dring deur na die Gauteng Kampioenskappe na die Distrik finaal.
Top Gauteng Skole kampioenskappe!
Die Top Gauteng Chess Schools-kompetisie het die afgelope naweek al die beste skaakspelers van Gauteng bymekaar gebring, met 20 skole wat in die o.20-afdeling meegeding het.
🥇♟️Charne Raubenheimer, ’n graad 9-leerder wat reeds in die o.19-afdeling speel, het briljant presteer en ’n GOUE medalje verower as die beste bordspeler! Haar talent en strategie het almal beïndruk en Oos-Moot se naam laat skitter!
Ons o.19-dogtersspan het ’n 12de plek behaal – ’n puik prestasie teen die top skole in Gauteng!
Baie geluk, Charne en span – julle maak Oos-Moot trots!
King and Queen “Klash” – Top skole uitnodigingsbyeenkoms 2025
By die ‘King and Queen Clash’ Top School-uitnodigingsbyeenkoms te H/S Waterkloof het ons spelers 3de uit 16 skole geëindig! 🏆 Twee van ons skaakspanne het deelgeneem en hul strategie, fokus en spanwerk ten toon gestel. Na ’n uitsonderlike jaar is ons ongelooflik trots om te sien hoe ons spelers steeds voortbou op hul indrukwekkende prestasies. 🌟
Julle harde werk en toewyding is regtig ’n inspirasie! 👏
🏅 2024: Volgehoue groei en prestasie
Die 2024 NWU-reeks bevestig Oos-Moot se posisie as ‘n sterk skaakskool:
-
🥈 2de plek in Groep A met 28 uit 40 punte
-
🥉 3de plek in die uitspeelrondtes, agter Waterkloof (1ste) en Menlopark (2de)
Individuele toekennings:
🥇 Gauteng Inter-streekkampioenskappe
Oos-Moot se skaakspelers het besonder goed presteer tydens die Gauteng Inter-streekkampioenskappe, waartydens ses streeks- en ouderdomspangevegte oor vyf rondtes plaasgevind het.
🏅 Goue medaljes – 1ste plekke: Steven Acker (o.16), Eduan Wolfaardt (o.16), Tiaan Stolp (o.16), Albert Durand (o.18), Brendo van Zyl (o.18)
🥈 Silwermedalje – 2de plek: Bonicia du Toit (o.18)
🎓 Waarom skaak?
Skaak is ’n unieke sport wat intellektuele vaardighede kweek wat leerders in alle aspekte van hul akademiese en persoonlike ontwikkeling bevoordeel:
-
🧩 Logiese en kritiese denke.
-
🧘♀️ Fokus en geduld.
-
🗣️ Etiese mededinging en respek vir teenstanders.
-
👥 Bevordering van spanidentiteit en samewerking tydens spanligas.
By Hoërskool Oos-Moot is skaak ’n sport wat denkvermoë vier, en ons spelers bewys jaarliks dat Oosies nie net op die sportveld nie, maar ook op die skaakbord die voortou neem.