NETBAL

Fotokrediet:  Oosie Media – Anri Venter en Luca Kruger

OOSIES SE o.16 A-SPAN VEROWER IN 2025, VIR DIE TWEEDE OPEENVOLGENDE JAAR, DIE GOUE MEDALJE BY DIE NWU-REEKS EN IS NAASWENNERS BY DIE WILDEKLAWERTOERNOOI IN KIMBERLEY 2025!

Die eerste span staan nie terug nie en verower die silwermedalje by die NWU-reeks! Beide spanne het in die finaal teen Die Hoërskool Menlopark deelgeneem.

Mia Steenkamp (o.16) word tydens die Wildeklawertoernooi 2025 as die beste o.16 verdediger van die toernooi aangewys!

Netbal by Oos-Moot: Meer as net ‘n spel

By Hoërskool Oos-Moot glo ons dat netbal soveel meer is as net wat op die baan gebeur. Dit is ’n platform vir groei, karakterbou en die ontwikkeling van lewenslange waardes. Ons spelers slyp nie net hul fisieke vaardighede nie, maar leer ook belangrike lewenslesse – soos spanwerk, verantwoordelikheid, deursettingsvermoë en die waarde van lojaliteit. Elke speler dra ‘n rol in haar span en leer om saam te werk vir ’n gemeenskaplike doel, ongeag die uitslag.

Vir baie van ons dogters is netbal nie net ‘n skoolsport nie, maar die begin van ’n lewenslange liefde vir die spel – of dit nou as speler, afrigter of entoesiastiese ondersteuner is. Die positiewe invloed van netbal strek ver buite die vierhoeke van die baan.


Die 2025-seisoen begin op ’n hoogtepunt

Die nuwe seisoen het afgeskop met opwindende mylpale: ’n rekordgetal Oosie-spelers het vir die eerste keer in ons geskiedenis die finale rondte van die Gauteng-proewe gehaal. Die o.16A-span het hul titel suksesvol verdedig en vir die tweede agtereenvolgende jaar as wenners van die NWU-reeks uit die stryd getree. Die eerstespan het ’n knap tweede plek behaal in hul afdeling – ‘n prestasie wat hul ervaring en vasberadenheid bevestig.

’n Gedenkwaardige oomblik vir twee spelers was Aretha de Beer en Kathleen Taljaard se 50ste wedstryd vir die eerstespan – gespeel op 20 Maart 2025 tydens die NWU-reeks. Albei is sedert 2023 trotse lede van hierdie span en hul lojaliteit en toewyding is werklik bewonderenswaardig.

Nog ’n hoogtepunt van die seisoen was die o.16A-span se deelname aan die gesogte Wildeklawer-toernooi in Kimberley – die eerste keer dat Oos-Moot genooi is om aan dié elite geleentheid deel te neem. Die span het met trots as naaswenners geëindig en die silwermedalje verwerf. In ‘n naelbyt eindstryd teen Helpmekaar Kollege is hulle met slegs een punt geklop (24–23). ’n Spesiale gelukwensing aan Mia Steenkamp, wat aangewys is as die beste o.16-verdediger van die toernooi.  Die span se mededingers en uitslae tydens die Wildeklawer toernooi:

Dag 1
Verloor teen Helpmekaar 22-18
Wen teen Paarl Girls High 28-18
Verloor teen Paarl Gim 26-24
Dag 2
Wen Potch Gim 31-15
Wen Ben Vorster 30-8
Wen Oranje Meisies 28-12
Dag 3
Semi-finaal:
Wen Monument in ekstra tyd 32-31
Finaal:
Verloor teen Helpmekaar 24-23

Ons is ongelooflik trots op elke speler, afrigter, ouer en ondersteuner wat bygedra het tot hierdie historiese prestasie. 


’n Terugblik op ’n die 2024-seisoen

Die 2024-netbalseisoen was propvol ontwikkeling, harde werk en sukses. Die jaar het afgeskop met ons deelname aan die NWU-reeks – ’n nuwe uitdaging teen sterk teenstanders. Ons het algeheel derde geëindig, en waardevolle ondervinding opgedoen op ’n hoër kompetitievlak.

Tydens die ligaseisoen het al ons spanne hul staal gewys. Ons het algeheel sesde geëindig – ’n beduidende verbetering van ons agtste plek in die vorige seisoen. Hierdie vordering weerspieël die toewyding van beide spelers en afrigters.

Twee spanne het besonders uitgeblink:

  • Die o.14A-span het hul plek in die Tshwane-uitspele verwerf – ’n bewys van hul talent en volharding.

  • Die o.15A-span het die liga gewen en tydens die SA-kampioenskappe vyfde in Suid-Afrika geëindig – vir die tweede opeenvolgende jaar ’n merkwaardige prestasie!

Ons spelers het nie net met hul spel beïndruk nie, maar ook met hul houding en sportmangees. Hulle is ware ambassadeurs van Oos-Moot. ’n Groot dankie aan ons afrigters en ouers – julle steun vorm die fondament van ons netbalsukses.


Die toekoms lyk blink

Met sulke sterk fondamente en groei in elke ouderdomsgroep sien ons met groot opgewondenheid uit na die res van die 2025-seisoen. Ons netbalfamilie is aan die groei – en ons is gereed om elke uitdaging met trots, passie en vasberadenheid aan te pak.

o.16A-span 2025
Spelers:  Elize Adams, Lana Love, Telana Breytenbach, Jaimé Marshall, Katelynne Jeffery, Megan Ferreira en Mia Steenkamp (tweede regs voor – aangewys as die beste o.16 verdediger tydens die Wildeklawertoernooi 2025).  Afrigter en spanbestuurder: S Visser en C Ludick

o.16A-afrigtingspan 2025
Me S Visser, Me C Ludick en Me A du Plessis

 

Aretha de Beer en Kathleen Taljaard
50ste wedstryd vir die eerste span (20 Maart 2025)