NETBAL

Ons glo dat netbal soveel meer is as net wat op die baan gebeur. Dit is ’n platform vir groei, karakterbou en die ontwikkeling van lewenslange waardes. Ons spelers slyp nie net hul fisieke vaardighede nie, maar leer ook belangrike lewenslesse – soos spanwerk, verantwoordelikheid, deursettingsvermoë en die waarde van lojaliteit. Elke speler dra ‘n rol in haar span en leer om saam te werk vir ’n gemeenskaplike doel, ongeag die uitslag.

Vir baie van ons dogters is netbal nie net ‘n skoolsport nie, maar die begin van ’n lewenslange liefde vir die spel – of dit nou as speler, afrigter of entoesiastiese ondersteuner is. Die positiewe invloed van netbal strek ver buite die vierhoeke van die baan.

2026

Met verskeie toere en indrukwekkende vertonings tydens die NWU-reeks het ons spanne van die begin af gewys dat hulle gereed is om teen die beste mee te ding.  

Gauteng Kampioenskappe

 o/14A-span:  Die span eindig eerste in hul poel (6 uit 6 wedstryde gewen) waarna hul deurgedring het na die uitspeelrondtes en die 6de plek uit 28 skole in Gauteng behaal het volgens die finale rangordewedstryde.

1ste-span:   Die eerste span het tydens hul eerste dag uitspele 3 uit hul 4 wedstryde gewen en met slegs 4 punte teen AHMP verloor in die 4de wedstryd.  Hul behaal die 7de plek in Gauteng volgens die finale rangorde.

Die spelers het deur die hele kampioenskap karakter, deursettingsvermoë en ware Oosie-gees gewys. 

Tshwane uitspele
Die o.14A-span skitter by die Tshwane uitspele en verseker as wenners in hul ouderdomsgroep hul plek onder die streek se topspanne wat deurdring na die Gauteng Netbal-Uitspele, wat op 15 en 16 Junie 2026 by Hoërskool EG Jansen aangebied word.

Met vasberadenheid, spanwerk en ware Oosie-gees het die span deur die dag indrukwekkende oorwinnings behaal in die poelwedstryde, in die semi-finaal teen H/S Waterkloof (23 – 20) en in die finaal teen H/S Montana (19 – 16).

NWU-reeks
Oos-Moot se netbalspanne lewer sterk vertonings in die NWU-reeks teen skole soos:  Menlopark, Waterkloof, HTS Middelburg, Piet Retief, Ben Vorster, Eldoraigne, Transvalia, EG Jansen, Nelspruit.  Die NWU Skolesportreeks se finale plasings word op Check-e-Log gepubliseer. 

Tshwane Jubilee Liga
Oos-Moot se eerstespan neem deel aan die Tshwane Jubilee Liga, wat een van die belangrike netballigas in die Pretoria/Tshwane-omgewing is.  Ons eerstespan klop vir Hoërskool Waterkloof met 31–30 in ‘n wedstryd wat terselfdertyd as ‘n Tshwane Jubilee Liga-wedstryd getel het.

Suzuki Netball Power Series
Ons spanne neem ook deel aan die nuwe Suzuki Netball Power Series, waar top netbalskole teen mekaar meeding. Die oorwinning teen Waterkloof het ook deel van hierdie reeks gevorm.

Hoogtepunte van die seisoen
Drie Oosie-netbalspelers in dieselfde seisoen tot Gautengspanne verkies:  Lané Hay (Gr.10), Mia Steenkamp (Gr.11) en Skylar Vraagom (Gr.9).

  • o.14A-span dring deur na die Tshwane Netbaluitspele.
  • o.19A-span kwalifiseer vir die Gauteng Netbalkampioenskappe.

Fast Five Netbaltoernooi – Hoërskool Montana

Twee Oosie-spanne behaal podiumposies.

  • o/15 Geelspan – 1ste plek 
  • o/17 Senior Geelspan – 3de plek 

Die toekoms van Oosie-netbal lyk blink!

Fast Five Gauteng

Die o.17 Seniorspan het Oos-Moot tydens die Gauteng-uitspele verteenwoordig en ‘n uitstekende agtste plek in Gauteng behaal.  

2025

Die seisoen het afgeskop met opwindende mylpale: ’n rekordgetal Oosie-spelers het vir die eerste keer in ons geskiedenis die finale rondte van die Gauteng-proewe gehaal. Die o.16A-span tree vir die tweede agtereenvolgende jaar as wenners van die NWU-reeks uit die stryd en word vir die eerste keer na die gesogte Wildeklawer-toernooi in Kimberley genooi.  Hul eindig as naaswenners in ‘n naelbyt eindstryd teen Helpmekaar Kollege wat hul slegs een punt klop (24–23).

Gauteng en SA Kampioenskappe

Die o.16A-span is Gauteng Kampioene in hul ouderdomsgroep en eindig hul seisoen in die sesde plek tydens die SA Kampioenskappe.

Fast 5

Die o.15- en o.18-spanne het met uitmuntende spel hul plek in die Fast5-distrikuitspele verseker, deurgedring na die Tshwane-uitspele by Hoërskool Menlopark waar die o.18 span derde geëindig het en gekwalifiseer het vir die Fast Five Gauteng uitspele.

Chantelle Swart (Oud-Oosie)

  • 2016: Haar debuut vir die Golden Fireballs-netbalspan
  • 2017: Sluit aan by die Gauteng Jaguars
  • Jaguars wen Telkom Netbal Liga vier keer sedert haar aansluiting
  • 2021: Haar debuut vir die SPAR Proteas

Jenny van Dyk (Oud-Oosie)

  • Posisie:  Hoofafrigter SPAR Protea Netbalspan 
    Voormalige SA o.21-speler wat haarself as topafrigter gevestig het.
  • Sy lei UP-Tuks na drie Varsity Netball-titels (2017, 2019, 2023) en die Gauteng Jaguars na vyf Premier Netball League-titels (2017–2021).
  • Vanaf 2024 is sy hoofafrigter van die SPAR Proteas