HOKKIE (Dogters/Seuns)

Die kombinasie van ‘n ASTRO-baan, provinsiale afrigters waaronder ‘n SA Meesterafrigter, ons deelname aan die Noord-Gauteng Eerste liga, die NWU-reeks, Pretoria Cup en Noordvaal-uitspele wys dat ons waarskynlik reeds van die mees ontwikkelende hokkieskole in die Moot- en Pretoria-Noord gebied is.

Hokkie is aan die groei by Hoërskool Oos-Moot – en nie net in getalle nie, maar ook in kwaliteit, prestasie en infrastruktuur en is lankal nie meer net ‘n wintersport nie – dit is ‘n sport vir die hele jaar.

Met spanne vir beide seuns en dogters wat jaarliks aan die NWU-reeks, plaaslike ligas en verskeie toernooie deelneem, is hokkie besig om ‘n trotse deel van die Oos-Moot-sportkultuur te word.  Sedert 2024 het ons spelers ook die geleentheid gehad om  teen spanne uit Skotland en Swaziland kragte te meet.  ‘n Hoogtepunt op ons kalender.

In 2021 het Oos-Moot sy hokkie-infrastruktuur tot ’n nuwe vlak geneem met ’n moderne ASTRO-baan. Hierdie fasiliteit stel ons in staat om spelers op ‘n topvlak te ontwikkel en bied geleenthede vir verskeie vorme van die sport – insluitend tradisionele 11’s, 8’s, binnenshuise hokkie en die dinamiese Hockey 5s-formaat.

Linde Steyn
Organiseerder
hokkie@oos-moot.co.za

PROGRAMME

DOGTERS

Dogtershokkie by Oos-Moot groei jaarliks van krag tot krag met agt spanne en ongeveer 100 dogters wat die skool verteenwoordig en beskik oor uitstekende deelname en talent oor alle ouderdomsgroepe.

Die dogtershokkiespanne neem tans deel aan die Noord-Gauteng G2-liga waar hulle weekliks teen van die sterkte skole in die streek meeding, onder andere Rustenburg, Cornwall Hill College, St Mary’s DSG, Curro Hazeldean, PHSH (Pretoria High School for Girls), Sutherland en moontlik Waterkloof, Menlopark, Centurion en Garsfontein later in die seisoen.  Daar is ook ‘n kans vir ons spanne om deur te dring na die Noordvaaltoernooi.

Afrigters

Mnr Earl Kim-Fley, hoofafrigter van ons Oosie Hokkie en die Oosie Junior Akademie, het meer as 20 jaar ervaring as speler, afrigter, skeidsregter en spanbestuurder.  Hy is huidiglik ook die afrigter van die Noord-Gauteng o.18B seunshokkiespan, een van die keurders en afrigter by die hoë prestasiespanne.  Verder is hy aangestel as afrigter van die SA Meestershokkie bo 35 mansspan wat in Julie aan die Wêreldbekertoernooi in Nederland gaan deelneem.

Me T Mkolo:  Spanbestuurder van die Noord-Gauteng o.18B-dogtershokkiespan.

Mnr L Letebele:  Spanbestuurder van die Noord-Gauteng o.16A-seunshokkiespan.

Me L Steyn (Oos-Moot organiseerder):  Spanbestuurder van die Suid-Gauteng o.16A-dogtershokkiespan.

2026

Die 2026-seisoen het reeds uitstekende resultate gelewer.   Die volgende spanne het deurgedring na die Noordvaal-kompetisie:  1ste-dogterspan (Grootskole B-afdeling), o.14A-dogterspan (Grootskole B-afdeling). 

Die Eerste Dogterspan het deur die loop van die seisoen indrukwekkende oorwinnings behaal teen gevestigde hokkieskole soos PHSG en St Mary’s DSG, terwyl hulle ook sterk vertonings gelewer het teen ander mededingende skole.  Op grond van hul prestasies tot dusver toon die span al die eienskappe van ‘n groep wat die seisoen in die boonste helfte van die Noord-Gauteng G2-liga kan afsluit.

Prestige toernooie waaraan ons spelers hierdie seisoen deelgeneem het:  Best of the West Krugersdorp, VM Cup, Tony Godding Festival, Greg Beling Festival, NHS o.14 Hokkiefees, Keith Fairweather Festival en klinieke.

Wat besonder bemoedigend is, is die diepte van die skool se hokkieprogram.  Die jonger spanne lewer gereeld sterk uitslae en toon dat die toekoms van dogtershokkie by ons in veilige hande is.  Die uitslae teen skole soos Sutherland, waar verskeie van ons spanne oorwinnings behaal het, bevestig die gehalte van ontwikkeling wat regdeur die ouderdomsgroepe plaasvind.  Hierdie sterk grondslag skep nie net geleenthede vir huidige sukses nie, maar verseker ook die volhoubare groei van die program vir die toekoms.

2025

Gedurende die 2025-seisoen het die dogtershokkiespanne uitstekende resultate behaal in die Northerns Girl Hockey Grootskole Groep 2-liga.  Die o.15B-span is as ligawenners gekroon, terwyl die o.14B-span en die Tweede span elk as naaswenners geëindig het.  

Die sukses van die program strek verder as net spanprestasies.  Een speler is in 2025 gekies vir die Noord-Gauteng o.16C-span, wat die hoë standaard van ontwikkeling binne die program bevestig.  Oos-Moot se spelers kry ook die geleentheid om teen sterk plaaslike en provinsiale teenstanders mee te ding, wat hul voorbereiding vir hoër vlakke van kompetisie versterk het.

SEUNS

Seunshokkie by Hoërskool Oos-Moot het die afgelope paar jaar merkwaardige groei beleef en ontwikkel tot een van die mees belowende hokkieprogramme in Noord-Gauteng. Met vier spanne en ongeveer 55 spelers bied die program aan jong spelers die geleentheid om hul vaardighede te ontwikkel, teen sterk teenstand mee te ding en hul passie vir die sport uit te leef.

Die beskikbaarheid van die skool se moderne ASTRO-baan, tesame met jaarlange ontwikkeling deur die Oosie-Junior Hokkie Akademie, skep ‘n uitstekende omgewing vir spelerontwikkeling en prestasie

Die seunshokkiespanne neem tans deel aan die Noord-Gauteng Eerste Liga, terwyl die tweede span in Liga 6 meeding.   Daarbenewens neem die A-spanne deel aan gesogte kompetisies soos die Pretoria Cup, Noordvaal-uitspele en die NWU Skolesportreeks, waar hulle hulself gereeld teen van die sterkste hokkieskole in die streek meet. Teenstanders sluit skole soos Menlopark, Affies, Centurion, Montana, Middelburg, Transvalia en Sutherland in – skole met gevestigde hokkietradisies en sterk programme.

2026

In hierdie seisoen bou ons spelers voort op die sukses van die vorige jaar.  Hierdie jaar is daar vir die eerste keer ook ‘n 2de-seunsspan ingeskryf vir die liga.  Ons sien hoe ons seunshokkiespanne steeds groei en ontwikkel teen sterk teenstand in die Noord-Gauteng hokkiestruktuur.  Die 1ste-seunsspan dring deur na die Noordvaal-kompetisie (Mediumskole afdeling).  ‘n Besondere mylpaal vir ons skool aangesien dit die eerste keer in Hoërskool Oos-Moot se geskiedenis is dat die 1ste-seunshokkiespan na hierdie kompetisie deurdring. 

Van die mees bemoedigende prestasies van die seisoen kom uit die o.16-span, wat sterk vertonings gelewer het teen gevestigde skole soos Menlopark en Sutherland. Hierdie uitslae bevestig die potensiaal van die groep en dui op ‘n belowende toekoms vir Oos-Moot-hokkie.

Die program geniet ook die voordeel van hoogs ervare afrigters onder leiding van Mnr Earl Kim-Fley.

Met sterk leierskap, uitstekende fasiliteite en ‘n groeiende kultuur van uitnemendheid, bly die seunshokkieprogram een van die opwindendste sportontwikkelings by Hoërskool Oos-Moot.

Hoogtepunte

1ste-span dring deur na die Noordvaal-kompetisie.
Deelname aan die Noord-Gauteng hokkieligas
Sterk vertonings deur die o.16-span teen gevestigde skole
Hoofafrigter aangewys as afrigter van die SA Mans 35+ Hokkiespan
Voortgesette deelname aan hoëvlak skoolhokkiekompetisies
Ontwikkeling van spelers binne ‘n provinsiale en nasionale afrigtingsomgewing

2025

Die 2025-seisoen was een van die mees suksesvolle jare in die geskiedenis van Oos-Moot se seunshokkieprogram. 

Die hoogtepunt van die seisoen was toe Oos-Moot as die algehele wenners van die Northerns Boys Hockey Tweede Liga aangewys is. Die o.16-span het hul afdeling gewen, terwyl die o.14-span en die Eerste Span elk as naaswenners geëindig het. Hierdie prestasies het die diepte, talent en toewyding van spelers en afrigters weerspieël.

Tydens die NWU Skolesportreeks het ons spelers waardevolle blootstelling teen van die sterkste hokkieskole in Gauteng en omliggende provinsies ontvang het. 

Die sukses van die seunshokkieprogram is verder beklemtoon deur individuele erkenning met een speler wat tot die Noord-Gauteng Ontwikkelingspan verkies is.

Met uitstekende fasiliteite, ‘n gevestigde afrigtingspan en die beskikbaarheid van die skool se ASTRO-baan, het 2025 die grondslag gelê vir verdere groei en sukses in die jare wat volg.

Hoogtepunte

Algehele wenners van die Northerns Boys Hockey Tweede Liga
o.16-span aangewys as ligawenners
o.14-span eindig tweede in hul afdeling
Eerste Span eindig tweede in hul afdeling
Een speler verkies tot die Noord-Gauteng Ontwikkelingspan
Deelname aan die NWU Skolesportreeks