IMG_0402a-scaled

SAGTEBAL

Die sagtebalprogram by Hoërskool Oos-Moot toon jaar na jaar merkwaardige groei. Die toewyding van ons afrigters en spelers het daartoe gelei dat Oos-Moot gereeld in die voorste linies van die ligas en kampioenskappe meeding. Ons spanne het nie net in die Tshwane Kampioenskappe en Stadsbeker-finaal uitgeblink nie, maar verskeie Oosie-speelsters is jaarliks opgeneem in die Tshwane-verteenwoordigende spanne – ’n bewys van hul talent en harde werk.

Afrigting en fasiliteite

Die sukses van Oos-Moot Sagtebal is die resultaat van toegewyde afrigters wat daarop fokus om spelers tegnies, fisiek en geestelik te ontwikkel. Deur professionele afrigting, uitstekende fasiliteite en ‘n kultuur van harde werk kry elke speler die geleentheid om haar volle potensiaal te bereik.

2026

2026 was ’n besondere jaar vir Oos-Moot se sagtebal. Die Oosies het deur die seisoen uitstekende vorm getoon en met sterk spanvertonings bewys dat sagtebal by Oos-Moot behoorlik op dreef is.

Gedurende Augustus het die spanne ’n indrukwekkende reeks uitslae behaal. Op 7 Augustus het die A-spanne teen Die Wilgers en die B-spanne teen Midstream College kragte gemeet en die dag onoorwonne met agt oorwinnings uit agt wedstryde afgesluit. Dié goeie vorm is op 22 Augustus teen Pretoria-Noord voortgesit, waar die Oosies ’n skoon sweep van ses uit ses behaal het. Op 29 Augustus het dieselfde teen Montana gevolg, met al ses Oos-Moot-spanne wat as wenners van die veld gestap het.

Die hoogtepunt van die ligaseisoen was Oos-Moot se algehele 1ste plek in die 2026 TSSA Girls A-League. Die o.14-, o.15-, o.16- en o.19-spanne het saam 27 punte ingesamel en daarmee die gesogte titel as Top Overall School in Pretoria verower. Die algehele skoolposisie word bepaal deur die ligapunte van die verskillende ouderdomsgroepe saam te tel – ’n prestasie wat hierdie titel ’n ware spanpoging oor al vier ouderdomsgroepe maak.

Oos-Moot se sagtebaltalent het in 2026 ook op nasionale vlak erkenning geniet. Miané van Dyk en Elrie Smit is gekies om die Suid-Afrikaanse o.18 Vroue Nasionale Sagtebalspan van Softball South Africa te verteenwoordig tydens die Region 5 U18 Vroue Sagtebaltoernooi, wat van 20 tot 22 Augustus in Gaborone, Botswana, plaasgevind het. Telana Breytenbach is as non-travelling reserve vir die span aangewys.

Die erkenning het ook tot langs die veld gestrek, met Oos-Moot se eerstespanafrigter, me. Mathilda Marais, wat as een van die hoofafrigters van die nasionale span aangewys is.

Van onoorwonne wedstryddae en skoonskip-oorwinnings tot ’n algehele ligatitel en nasionale verteenwoordiging – 2026 was beslis ’n jaar waarop Oos-Moot se sagtebalprogram met trots kan terugkyk.

2025

’n Uitsonderlike jaar vir Oosie Sagtebal.  Gauteng Kampioenskappe:  o.15A en o.19A-spanne is Gauteng Kampioene – ’n besonderse prestasie wat die skool se status as ’n top sagtebalskool bevestig.

Tshwane Sagtebal liga-uitspele:  o.15A-span –  ligawenners, die eerste span kwalifiseer vir die Gauteng Kampioenskappe en o.16A eindig vierde.  Algeheel eindig Oos-Moot tweede in die TSSA-liga. 

Minstens 3 spelers (Miané van Dyk, Telana Breytenbach en Elrie Smit) is opgeneem in die Gauteng Skole Sagtebalspan.  Miané van Dyk is ook gekies vir die Senior Gauteng Sagtebal span wat aan die Sagtebal SA. Nasionale Provinsiale Kampioenskappe deelgeneem het.  ’n Oos-Moot afrigter is ook as hoofafrigter van die Gauteng-span aangestel.