ORKES EN “DRUMLINE”

Die Oos-Moot Orkes is sedert 2017 ‘n trotse deel van Hoërskool Oos-Moot se kultuurlewe. Wat as ‘n klein ligtemusiek-ensemble begin het, het oor die jare ontwikkel tot ‘n dinamiese blaasorkes wat gereeld op provinsiale en nasionale vlak presteer.

Vandag bied die orkes aan leerders die geleentheid om hul musikale talente te ontwikkel, selfvertroue te bou en deel te wees van ‘n span wat deur dissipline, passie en uitnemendheid gekenmerk word.

Me M Pretorius
Organiseerder
orkes@oos-moot.co.za

Mnr A van der Walt
Afrigter
orkes@oos-moot.co.za

Vanaf sy ontstaan in 2017 het die Oos-Moot Orkes hom vinnig as een van Hoërskool Oos-Moot se trotse kultuurafdelings gevestig. Reeds in sy eerste jaar is die Nasionale Mars- en Skoolorkeskompetisie gewen, waarna nog twee opeenvolgende Suid-Afrikaanse titels in 2018 en 2019 gevolg het. Teen die einde van 2019 het die orkes tot 46 lede gegroei – ‘n bewys van die groeiende belangstelling, talent en toewyding van ons leerders.

Die COVID-19-pandemie het die orkes se aktiwiteite gedurende 2020 tydelik onderbreek, terwyl mnr. Alexander de Kock die orkes tot einde 2022 afgerig het. In 2022 het die orkes weer sterk na vore getree met ‘n derde plek in die konsertafdeling tydens die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe, asook ‘n optrede by die Tshwane Jeugkunstefees in die Suid-Afrikaanse Staatsteater.

Onder leiding van mnr. A.G. van der Walt het die orkes in 2024 nuwe hoogtes bereik. Met hul eerste deelname aan die Pretoria Eisteddfod het hulle ‘n A++ behaal en trofeë ontvang vir Beste Gemengde Blaasorkes en Beste Nuwelingorkes. By die Noordekruin Kunstefees is die orkes as wenorkes aangewys met nog ‘n A++, terwyl hulle ook ‘n silwertoekenning tydens die SASBA-kampioenskappe ontvang het. Die jaar is afgesluit met ‘n indrukwekkende 22 optredes, wat die orkes se groei, veelsydigheid en toenemende aansien in die musiekwêreld verder beklemtoon. Hierdie mylpale het die grondslag gelê vir die uitsonderlike prestasies wat die orkes in die daaropvolgende jare sou behaal.

Ons visie

Die Oos-Moot Orkes streef daarna om:

  • op nasionale vlak teen Suid-Afrika se beste skoolorkeste mee te ding;
  • ‘n dinamiese veldorkes vir sportbyeenkomste te wees;
  • by skool- en gemeenskapsfunksies op te tree; en
  • instrumentale musiek in die Moot aktief te bevorder.

Dirigent

Die orkes staan onder leiding van mnr. A.G. van der Walt, ‘n oud-Oosie met ‘n groot liefde vir musiek. Hy het reeds op ‘n jong ouderdom begin viool speel en musiek doseer, studeer later Klanktegnologie aan Oakfields College en kwalifiseer ook as professionele instrumenttegnikus. Benewens viool bespeel hy verskeie blaasinstrumente en lei hy die orkes met passie en toewyding.

Drumline

‘n Opwindende toevoeging tot die orkes is die Oos-Moot Drumline, wat met energieke ritmes ons sportspanne by wedstryde ondersteun.

2026

In Junie het die Oos-Moot Orkes aan die Pretoria Eisteddfod se blaasorkeskategorie deelgeneem en met ‘n A+-toekenning weggestap. Hierdie uitstaande prestasie is verder bekroon deur die orkes vir die derde opeenvolgende jaar as die Beste Gemengde Blaasorkes aan te wys – ‘n besonderse bewys van die orkes se volgehoue uitnemendheid, musikaliteit en toewyding.

2025

  • 21 optredes gedurende die jaar.
  • Pretoria Eisteddfod: A+ en trofee vir Beste Gemengde Blaasorkes.
  • Noordekruin Kunstefees: A+.
  • Afrikaanse Kunstevereniging: Vergulde A+.
  • Nasionale Eisteddfod: Goue medalje as kategoriewenners en die gesogte Ambassadeurstoekenning, toegeken aan deelnemers in die top 3% van bykans 7 000 inskrywings.

OPTREDES

UIT DIE ARGIEWE

Oosies se kadetorkes 1995 (Videos 1 en 2)

Hoërskool Oos-Moot se kadetorkesoptrede tydens die streek kadetkompetisie wat by Hoërskool Tuine Tegnies aangebied was in Augustus 1995. Oos-Moot se orkes het 2de plek in die Pta Oos streekskompetisie behaal en deurgedring na die Kommandement Noord Transvaal Kompetisie in September 1995 waar hul die 3de plek in Noord Tvl behaal met dieselfde repertoire.