Dogtershokkie by Oos-Moot groei jaarliks van krag tot krag met agt spanne en ongeveer 100 dogters wat die skool verteenwoordig en beskik oor uitstekende deelname en talent oor alle ouderdomsgroepe.
Die dogtershokkiespanne neem tans deel aan die Noord-Gauteng G2-liga waar hulle weekliks teen van die sterkte skole in die streek meeding, onder andere Rustenburg, Cornwall Hill College, St Mary’s DSG, Curro Hazeldean, PHSH (Pretoria High School for Girls), Sutherland en moontlik Waterkloof, Menlopark, Centurion en Garsfontein later in die seisoen. Daar is ook ‘n kans vir ons spanne om deur te dring na die Noordvaaltoernooi.
Afrigters
Mnr Earl Kim-Fley, hoofafrigter van ons Oosie Hokkie en die Oosie Junior Akademie, het meer as 20 jaar ervaring as speler, afrigter, skeidsregter en spanbestuurder. Hy is huidiglik ook die afrigter van die Noord-Gauteng o.18B seunshokkiespan, een van die keurders en afrigter by die hoë prestasiespanne. Verder is hy aangestel as afrigter van die SA Meestershokkie bo 35 mansspan wat in Julie aan die Wêreldbekertoernooi in Nederland gaan deelneem.
Me T Mkolo: Spanbestuurder van die Noord-Gauteng o.18B-dogtershokkiespan.
Mnr L Letebele: Spanbestuurder van die Noord-Gauteng o.16A-seunshokkiespan.
Me L Steyn (Oos-Moot organiseerder): Spanbestuurder van die Suid-Gauteng o.16A-dogtershokkiespan.
2026
Die 2026-seisoen het reeds uitstekende resultate gelewer. Die volgende spanne het deurgedring na die Noordvaal-kompetisie: 1ste-dogterspan (Grootskole B-afdeling), o.14A-dogterspan (Grootskole B-afdeling).
Die Eerste Dogterspan het deur die loop van die seisoen indrukwekkende oorwinnings behaal teen gevestigde hokkieskole soos PHSG en St Mary’s DSG, terwyl hulle ook sterk vertonings gelewer het teen ander mededingende skole. Op grond van hul prestasies tot dusver toon die span al die eienskappe van ‘n groep wat die seisoen in die boonste helfte van die Noord-Gauteng G2-liga kan afsluit.
Prestige toernooie waaraan ons spelers hierdie seisoen deelgeneem het: Best of the West Krugersdorp, VM Cup, Tony Godding Festival, Greg Beling Festival, NHS o.14 Hokkiefees, Keith Fairweather Festival en klinieke.
Wat besonder bemoedigend is, is die diepte van die skool se hokkieprogram. Die jonger spanne lewer gereeld sterk uitslae en toon dat die toekoms van dogtershokkie by ons in veilige hande is. Die uitslae teen skole soos Sutherland, waar verskeie van ons spanne oorwinnings behaal het, bevestig die gehalte van ontwikkeling wat regdeur die ouderdomsgroepe plaasvind. Hierdie sterk grondslag skep nie net geleenthede vir huidige sukses nie, maar verseker ook die volhoubare groei van die program vir die toekoms.
2025
Gedurende die 2025-seisoen het die dogtershokkiespanne uitstekende resultate behaal in die Northerns Girl Hockey Grootskole Groep 2-liga. Die o.15B-span is as ligawenners gekroon, terwyl die o.14B-span en die Tweede span elk as naaswenners geëindig het.
Die sukses van die program strek verder as net spanprestasies. Een speler is in 2025 gekies vir die Noord-Gauteng o.16C-span, wat die hoë standaard van ontwikkeling binne die program bevestig. Oos-Moot se spelers kry ook die geleentheid om teen sterk plaaslike en provinsiale teenstanders mee te ding, wat hul voorbereiding vir hoër vlakke van kompetisie versterk het.