TENNIS

Tennis is een van die sportsoorte wat die afgelope paar jaar sterk by Hoërskool Oos-Moot gegroei het. Jaarliks neem ‘n groot groep leerders aan die skoleliga deel, waar hulle teen van Pretoria se sterkste skole meeding.  Die fokus van die program is om spelers op alle vlakke te ontwikkel en ‘n liefde vir die sport te vestig.

Gedurende die 2026-seisoen het ons seunspanne onder andere meegeding teen Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Montana, Hoërskool Erasmus, St Albans College, Hartbeespoort High School en Tyger Valley College.

Ons eerste- en tweede dogtersspanne het onder andere kragte gemeet met Hoërskool Noordheuwel, Hoërskool Zwartkop, Pretoria High School for Girls (PHSG), Hoërskool Waterkloof, Curro Hazeldean, Hoërskool Montana, Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP), Hoërskool Centurion, Hoërskool Monument, Eduplex, St Mary’s DSG en die Deutsche Internationale Schule Pretoria. 

Hierdie wedstryde bied waardevolle blootstelling en dra by tot die voortdurende ontwikkeling van ons spelers en spanne.

Ons spanne neem onder andere deel aan:

  • Senior Seuns B1-liga
  • Senior Seuns B3-liga
  • Junior Seuns B1-liga
  • Dogterskoleliga
  • Uitnodigings- en ontwikkelingstoernooie

Afrigting

Ons word met trots afgerig deur Carla Smith, wat met toewyding en ervaring ons spelers lei. 

Fasiliteite

‘n Belangrike mylpaal is bereik met die voltooiing van die skool se splinternuwe tennisbaan, waarop spelers reeds hul eerste oefensessies gehou het. Die bestaande netbalbane is terselfdertyd opgegradeer en aangepas om vir beide tennis en netbal gebruik te word. 

2026

Die 2026-tennisseisoen word gekenmerk deur sterk spanprestasies, mededingende wedstryde en uitstekende ontwikkeling oor al ons spanne. Oos-Moot se spelers het hul skool met trots verteenwoordig en deurgaans veggees, sportmanskap en deursettingsvermoë op die baan getoon.

NWU-reeks

Ons eerste- en tweede spanne het aan die gesogte NWU-reeks deelgeneem, waar hulle teen van die sterkste skoolspanne in Suid-Afrika meegeding het.

  • 1ste span – 9de algeheel
  • 2de span – 7de algeheel

Hierdie toernooi het waardevolle wedstrydervaring gebied en die spelers se tegniese en taktiese ontwikkeling verder versterk.

Skoleliga

Gedurende die skoleligaseisoen het ons spanne uitstekende uitslae behaal:

15 Mei 

  • 1ste span: Naelskraapse nederlaag teen Montana (33–34) ná ‘n besonder kompeterende wedstryd.
  • 2de span: Oortuigende 58–9 oorwinning oor Erasmus.

21 Mei 2026: Junior Seunspan: Indrukwekkende 53–14 oorwinning oor Waterkloof (C).

22 Mei 2026:  1ste span: Sterk vertoning teen St Albans (A), 2de span: Oorweldigende 55–12 oorwinning oor St Albans (B) en die 3de span: verdienstelike 36–31 oorwinning oor Hartbeespoort (A).

Uitstaande Spanprestasie;  Een van die hoogtepunte van die seisoen was die 1ste seunspan se indrukwekkende 56–11 oorwinning oor Tyger Valley College – ‘n vertoning wat die span se talent, voorbereiding en uitstekende samewerking beklemtoon het.

Die 2026-seisoen het weereens getoon dat tennis by Hoërskool Oos-Moot op ‘n sterk grondslag gebou is. Ons spelers het deurentyd met vasberadenheid en trots meegeding, waardevolle ervaring opgedoen en die skool se naam met onderskeiding uitgedra. Hierdie prestasies vorm ‘n stewige basis waarop die tennisprogram in die toekoms verder kan groei.

2025 

Tennis het in 2025 sterk gegroei by Hoërskool Oos-Moot, met ’n groot groep leerders wat entoesiasties aan die sport deelgeneem het. Die skool het vier seunsspan­ne en twee dogtersspan­ne in die jaarlikse skoleliga gehad. Die seunsspan­ne het uitstekend gevaar en die meeste van hul wedstryde gewen, met die eerstespan en junior seuns A-span wat beide onder die top drie in hul ligas geëindig het. Die dogters het waardevolle ervaring opgedoen en deur die jaar goeie vordering getoon.

In Oktober het drie seunsspan­ne aan die Buffelspoort-tennistoernooi deelgeneem. Die eerstespan is as algehele wenners gekroon, die tweede span het 3de geëindig, en die derde span 6de uit tien spanne.

Met hierdie positiewe momentum is ons spelers reeds hard besig om voor te berei vir die nuwe seisoen.

Ons spog nou met ons eie tennisbaan wat onlangs voltooi is en ons tennisspelers het op Maandag, 27 Oktober, vir die eerste keer op hul eie baan geoefen.  ’n Groot mylpaal wat nuwe geleenthede bied om tennis by Oos-Moot verder uit te bou.  Die bestaande vyf netbalbane se oppervlakte is ook oorgedoen en van dié bane sal saam met die nuwe tennisbaan vir beide tennis en netbal gebruik word.