ONS NUWE HOOF
Ons is opgewonde om aan te kondig dat Me. Susan Theron amptelik ons nuwe hoof is!
Nog meer spesiaal – sy is die eerste vroulike hoof in Oos-Moot se geskiedenis. Baie geluk, Me. Theron! Ons Oosies verwelkom u met ope arms en sien uit na ‘n blink toekoms saam met u aan die stuur. Me. Theron is ‘n trotse Moot-inwoner en ‘n oud-Oosie-ouer, wat beteken sy ken en verstaan ons gemeenskap. Sy is regtig opgewonde om deel te wees van ons skool se volgende hoofstuk. Met die ondersteuning van ons personeel, beheerliggaam, leerders, ouers en die hele Moot-gemeenskap, glo ons dat Oos-Moot net sterker gaan word.
Me. Theron, sterkte met die groot taak wat voorlê. Ons sien uit na ‘n fantastiese tyd saam met u as ons leier! Artikel in Rekord 2025
BOODSKAP VAN ONS NUWE HOOF
Geagte Ouers en Leerders van die Moot-omgewing
Ons as gemeenskap het iets besonders – die geleentheid om saam ‘n toekoms van uitnemendheid vir ons kinders te bou, reg hier in ons eie Moot.
Ons weet dat groter skole in ander areas van Pretoria soms as ‘n aanloklike opsie gesien word, omdat daar geglo word dat dit beter blootstelling bied vir akademie, sport en kultuur. Ons glo vas Hoërskool Oos-Moot het die potensiaal om nie net dieselfde nie, maar selfs beter geleenthede aan te bied – as ons saamwerk.
By Oos-Moot streef ons daarna om:
- Akademiese uitnemendheid te bevorder deur toegewyde en gekwalifiseerde personeel en ‘n uitdagende, afgeronde kurrikulum;
- Sportprestasies te vier met ‘n sterk fokus op deelname, ontwikkeling en kompetisie, waar elke kind ‘n kans kry om te groei;
- Kulturele hoogtepunte te bereik deur ons leerders se talente, kreatiwiteit en leierskap aan te moedig.
Deur Hoërskool Oos-Moot u eerste keuse te maak, doen ons meer as net om ons kinders in die Moot te hou – ons bou ‘n skoolgemeenskap waar elke kind gesien, gehoor en ondersteun word, waar prestasie nie net vir die enkeles is nie, maar vir almal.
Hierdie inisiatief word versterk deur die samewerking van die Oosie Bond, saam met u as ouers, oudleerders en gemeenskapslede van die Moot, om ‘n werklike verskil in ons leerders se lewens te maak en die volle potensiaal van Hoërskool Oos-Moot te ontsluit.
Hou ook in gedagte dat wanneer leerders kies om na groter skole in die ooste van Pretoria te gaan, dit dikwels gebeur dat hulle hulself in groot, mededingende omgewings bevind. Plekke waar dit moeilik kan wees om raakgesien te word en waar hulle soms tevrede moet wees met ‘n plek in die agtergrond of laer spanne, eerder as om uit te blink.
By Hoërskool Oos-Moot glo ons dat elke kind die geleentheid verdien om uit te staan en hul volle potensiaal te bereik. Hier is daar plek vir elke talent, en hier kan jou kind nie net deelneem nie, maar ook presteer en uitblink.
Ons nooi elke ouer en leerder uit om saam met ons hierdie pad van groei, trots en uitnemendheid te stap. Kom ons bou Oos-Moot saam tot ‘n skool van uitnemendheid – hier in ons eie Moot!
Laat ons ons kinders wys dat hulle nie hoef te gaan soek vir beter geleenthede nie, maar dat hulle dit self hier by hul eie skool kan skep.
Vir ons kinders, vir ons skool, vir ons gemeenskap
Met trots
Me S Theron
HOOF