Wat sê ons leerders van die vak
Waarom Gasvryheidstudies as ‘n keusevak in graad 10 tot 12 neem?
Gasvryheidstudies leer lewensvaardighede wat jy elke dag kan toepas. Dit is ‘n dinamiese en praktiese vak wat leerders voorberei om direk ná skool die arbeidsmark te betree. Dit is een van die min studierigtings wat werklik beroepsgereedheid bevorder.
Hoewel daar geen spesifieke vereistes is om die vak te neem nie, sal leerders met ‘n liefde vir kos, kreatiwiteit en die estetiese kunste dit veral geniet. Die vak bied waardevolle praktiese ervaring en leer leerders noodsaaklike lewensvaardighede soos harde werk, verantwoordelikheid en aanpasbaarheid – eienskappe wat nie net in die gasvryheidsbedryf belangrik is nie, maar ook in enige beroep en die lewe self.
Leerders kry die geleentheid om te leer hoe om gevorderde geregte voor te berei en esteties te garneer sodat dit restaurantgehalte disse is.
Restaurantaande vorm ‘n groot deel van Gasvryheidstudies en die leerders kry die geleentheid om verskillende rolle (bv. kelner, sjef, aboyer, hoofkelner ensovoorts) te vervul.
Hier word unieke vaardighede soos spanwerk, krisisbeheer en kliënteverhoudings geleer.
Die skool het sy eie restaurant “Bonne Cuisine”.
Watter opwindende loopbane kan jy volg in hierdie vakrigting?
Voedseljoernalistiek, fotografie en voedselstylering
Voedselwetenskap en -ontwikkeling by groot kettingwinkels soos Checkers, Woolworths en Pick ‘n Pay
Hotel-, besigheids- of restaurantbestuur en Franchise-eienaarskap
Onderwys
Spyseniering vir funksies en troues
Sjefs in verskeie spesialiteite, soos Patissier (troukoeke, brood, ens.)
Restaurant bestuur
Hoof sjef / privaat sjef (bv. op skepe, seiljagte of treine)
Chocolatier
Spesialis bakker van tema koeke
Spysenier
Blogger
Voedselfotograaf
Wyndeskundige (Sommelier)
Voedselstilis
Produk – en/of resepkoordineerder
Gesondheidsinspekteur
Voedselskrywer/ -joernalis
Voedselwetenskaplike
Dieetkundige
Jou eie besigheid begin, byvoorbeeld voedselaflewering by huise – ideaal vir leerders wat tuis wil wees terwyl hul kinders klein is.
Watter onderwerpe word in hierdie vak gedek?
Sektore en loopbane: Voedsel- en drankdienste in die kombuis of restaurant. Wetgewing en beleide in die gasvryheidsbedryf.
Voeding en spyskaartbeplanning: Teepartytjies, skemerkelkonthale, ontbytbeplanning, vier-gang maaltye, vegetariese/voedselintoleransies en allergieë.
Spyskaartkosteberekening: Kosteberekening vir spyskaarte, funksies en produkte.
Kombuis- en Restaurantwerking: Bestelling, ontvangs en stoor van voorraad, gebruik van rekenaars in die bedryf, en professionalisme.
Voedselkommoditeite: Voorbereiding van verskillende kosse en geregte.
Higiëne en Veiligheid: Voedselvergiftiging versus voedselbederf, voedselkontaminering, en temperatuurbeheer in die kombuis.
Watter tipe leerder geniet gewoonlik hierdie vak?
Gasvryheidstudies is ideaal vir ‘n gedissiplineerde, kreatiewe leerder wat hou van praktiese werk en uitdagings. Dit is ‘n uitstekende keuse vir leerders wat ‘n balans soek tussen teoretiese vakke en kreatiewe aktiwiteite. Leerders wat graag in ‘n span werk, buite die klas wil leer, en op soek is na ‘n vak wat hulle ‘n A-gemiddeld in graad 12 kan help behaal, sal hier floreer.
Watter tipe assessering word in hierdie vak gedoen?
Teoretiese aktiwiteite
Kwartaaltoetse
Eksamens
Restaurantaande wat ‘n volledige ervaring bied van die werk in die gasvryheidsbedryf.
Aanbevelings vir leerders wat hierdie vak wil neem
Leerders wat Gasvryheidstudies wil neem, moet goeie tydsbestuur en dissipline hê om suksesvol vir praktiese werk en restaurantaande voor te berei.
Die teorie bevat interessante internasionale terme wat leerders sal uitdaag.
Leerders wat selfstandig kan werk en pligsgetrou is, sal goed vaar.
Die vak kan uitdagend wees weens die restaurantaande wat van 15:00 tot 22:00 duur, maar daar is slegs twee sulke aand-geleenthede per jaar.
Slaagvereistes
Graad 10 tot 12 – Twee ander vakke 40% of drie ander vakke 30%