GESKIEDENIS

SKOOLHOOFDE

Me S Theron
2025 – 

Mnr TN Kotzé
2020 – 2024

Mnr S Hearne
2010 – 2019 

Mnr HPTL du Preez
1995 – 2009 

Mnr EHC Botha
1976 – 1994 

Mnr JA Gerber
1968 – 1975 

Mnr JC Geertsema
1952 – 1967 

Die Storie van Hoërskool Oos-Moot

’n Ryk geskiedenis van groei, prestasie en gemeenskapstrots

1952
Op 8 Januarie open ’n nuwe skoolgebou op die hoek van Pierneefstraat en 25ste Laan, Villieria – ’n struktuur bedoel vir laerskoolleerlinge, maar dit sou spoedig die begin wees van iets groter. Met 211 leerders en mnr. JC Geertsema as eerste hoof, begin die Derdepoortse Hoërskool. Die terrein was oorspronklik ru en onontwikkel, sonder speelgrond, met lang gras wat oral groei.

1953
Op 20 Mei ontvang die skool ’n brief van die Transvaalse Onderwysdepartement: die skool moet tydelik verhuis na Cunninghamlaan 98, Waverley, en die naam moet verander word om die gebied wat dit dien, beter te reflekteer. Op 8 Julie heropen die skool as Hoërskool Oos-Moot. Die skoolwapen word deur mnr. JS du Toit ontwerp, en in wol geborduur deur leerlinge Nellie Labuschagne en Magdalena Pieterse.

1955–1957
Die bou van die nuwe skoolterrein in Haarhoffstraat 1120 begin. Op 11 Maart 1955 draai mnr. T Wassenaar die eerste sooi, en op 19 November lê mnr. FH Odendaal die hoeksteen. Die gebou open amptelik op 1 Februarie 1957. Teen daardie tyd huisves die skool 672 leerders en 29 personeellede.

1960
Oos-Moot groei vinnig: met 1107 leerders word vyf tydelike klaskamers en ’n laboratorium bygevoeg. Daaglikse oggendbyeenkomste en skriflesings vind in die grasvierkant plaas omdat die saal te klein was. Die skoollied word in 1959 geskryf deur mev. L Havenga en getoonset deur mnr. SH Eyssen.

Afstigtings
Vanweë die groei ontstaan twee ander hoërskole uit Oos-Moot:

  • 1954: FH Odendaal Hoërskool

  • 1961: Staatspresident CR Swart Hoërskool

Moderne ontwikkelinge by Oos-Moot:

2012: Grootste getal graad 8-inskrywings tot op hede. Ses nuwe klaskamers en ’n nuwe hoofingang word voltooi.

2014: Die bekende “Oosie-druppel” logo word deur oud-Oosie Hannes van Eeden ontwerp, geïnspireer deur die skoollied.

2016: Nuwe krieket- en hokkieklubhuis. LO-kleedkamers word opgegradeer.

2017: Die snoepie word omskep in ’n volwaardige kafeteria.

2018: Die Rugby-klubhuis, personeelkamer en kombuis word vergroot en twee permanente klasse word langs die vierkantarea in die skool gebou.

2019: Die skoolsaal word opgeknap en “Oosie de Triomf” – ’n muur en klok – word gebou. Nuwe leerders en personeel lui die klok wanneer hulle aan die begin en einde van hul tyd by Oos-Moot.

2021: Die eerste Astrobaan (hokkie) in die hele Moot-area word gebou. Die gimnasium word heringerig en professionele kondisionering word geïmplementeer deur oud-Springbok, Danie Coetzee.  Die skool rig ‘n LED-bord op vir advertensiegeleenthede en bemarking van die skool op.

2022:  Sonpanele is geïnstalleer by kernareas soos die kantoorblok, RTT/IT-klaskamers, afrolkamer en personeelkamer. 

2023:  ‘n Buitelugverhoog is opgerig by die atletiekveld – ‘n spoggerige toevoeging tot die skool se buitelug-aanbiedinge.   Die opgradering van die klaskamers se vloere begin en sal die volgende paar jaar gedurende vakansies gedoen word.  In die Gasvryheid- en Verbruikerstudiekombuise is al die elektriese toerusting met moderne gastoerusting vervang.

2024:  ‘n Addisionele kombuis is vir Gasvryheid- en Verbruikerstudies ingerig.  Twee tydelike klasse is opgerig om die groeiende leerdersgetalle te akkommodeer.  Maste en spreiligte is by die netbalbane opgerig vir aandaktiwiteite.  Asblikke is strategies op stoepareas aangebring vir netheid en netjiese terreinbestuur.  By die sportgronde in Hertzogstraat is die snoepie en die rugby se bloukamer vir die eerste span oorgebou.  Verskeie nuwe pawiljoene is langs die sportveld opgerig.  Precast mure is tussen die skoolgronde in Haarhoffstraat en naburige erwe opgerig.  Die snoepie is oorgebou en die rugby se bloukamer opgegradeer.  Personeelparkeerplekke is voor die hoofgebou geskep en ‘n elektriese telbord vir die sportgronde is met ‘n borgskap bekom.  Die tegniese area by die Astrobaan is voltooi.  Die Oosie klerewinkel is amptelik op die skoolterrein in Haarhoffstraat gevestig.

2025:  Plaveisel voor die Astrobaan, skoolsaal, en sportgrondareas in Hertzogstraat is opgegradeer.  ’n Kragopwekker is geïnstalleer om kragonderbrekings pro-aktief te hanteer.  Die onderkant van die skoolsaal se verhoog is opgegradeer.  Gras is geplant tussen die T-klaskamers en by die braaiarea van die sportgronde.  Die gebruiklike patroon van vloervervangings in twee klaskamers per vakansie is voortgesit.  ’n See-through omheining is aan die Hertzogstraat-kant van die terrein aangebring.  Lugversorging word (vir die eerste keer ooit) in die skoolsaal aangebring met fondse wat bekom is deur verskeie fondsinsamelingsprojekte wat deur die skool se ouers en leerders ondersteun is.

Ons spog sedert ons OPEDAG, 14 Mei 2025 met ‘n pragtige nuwe struktuur voor ons skoolsaal.  Die inisiatief en betrokkenheid van me W. Viljoen, ‘n trotse Oosie-ouer by die ontwerp, konstruksie en afronding van die pragtige metaalkunswerk, die Oosie Druppel (in 2014 ontwerp deur oud-Oosie Hannes van Eeden, geïnspireer deur die skoollied) wat nou met trots voor ons skoolsaal pryk. Steward and Lloyds in Silverton en Khethiwe projects in Silvertondale het bygedra om hierdie inisiatief te help realiseer. Hierdie unieke kunswerk is nie net ‘n visuele baken op ons skoolterrein nie, maar ook ‘n simbool van Oos-Moot se ryke kultuur, trotse geskiedenis en lewende gees.

📚 Interessanthede: Mikro en Oos-Moot

In 1959 tydens Oos-Moot se Taalfees, bring die bekende Afrikaanse skrywer Mikro (skuilnaam van Christoffel Hermanus Kühn) ’n besoek aan die skool. Na afloop van ’n toneelopvoering van drie toneeltjies uit sy werk Die Porseleinkat, staan hy op en maak ’n merkwaardige aankondiging: Hy neem Hoërskool Oos-Moot as sy amptelike skool aan. As teken van hierdie verbintenis belowe hy om van elke nuwe boek wat hy publiseer, ’n getekende eksemplaar aan die skool se biblioteek te skenk.

📖 Van die boeke wat Mikro persoonlik aan die skool geskenk en geteken het, sluit in:

  • Die Weduwee Meraai

  • Die Koperkant

  • Die Jongste Veldkornet (geskenk en geteken op 9 Oktober 1963)

  • Die Winkelvenster (geskenk en geteken op 18 Mei 1967)

  • Sias en Mias

Hierdie werke is deel van Oos-Moot se kosbare kulturele erfgoed.

GREPE UIT OOS-MOOT SE GESKIEDENIS