INGENIEURSGRAFIKA EN -ONTWERP (IGO)

Wat sê ons leerders van die vak

 

Waarom Ingenieursgrafika en -ontwerp (IGO) as keusevak in graad 10 tot 12 neem?

IGO is uniek omdat dit nie vereis dat leerders groot volumes werk memoriseer en herhaal nie.  Dit is ‘n praktiese vak waar leerders met behulp van tekentoerusting gedetailleerde en presiese tekeninge skep. Die doel is om ‘n visuele voorstelling van ‘n ontwerp te gee voordat dit vervaardig word.

Hierdie vak ontwikkel insig en kreatiwiteit deurdat leerders leer hoe om tegniese tekeninge op ‘n gestruktureerde en akkurate manier te maak.

Die IGO leerders word in staat gestel om tekeninge te interpresteer en te produseer binne die konteks van meganiese tegnologie, siviele tegnologie en elektriese tegnologie.

Grafiese tekeninge is die primêre manier van kommunikasie in die tegnologiese wêreld.

Watter studierigtings en loopbane kan gevolg word met hierdie vak?

Ingenieurswese
Argitektuur
Bourekenkunde (Projek- en Konstruksiebestuur)
Binnenshuise Ontwerp
Grafiese Ontwerp
Boutekenaar (Draughtsman)
Mediese tegnikus
Interieurontwerp
Ontwerper van juweliersware
Landmeter
Stadsbeplanner

Hierdie beroepe verg vaardighede in presisie, tegniese insig en kreatiewe probleemoplossing – alles kernaspekte van IGO.

Watter onderwerpe word in hierdie vak gedek?

Siviele Tekenwerk
Meganiese Tekenwerk
Isometriese Tekenwerk (3D)
Ortografiese Tekenwerk (2D)
Perspektieftekeninge (3D)
Helikse en Nokke
Vaste Liggame
Oorgangstukke
Deurdringings en Ontvouings

Hierdie tegnieke vorm die basis van ingenieurs- en argitektoniese tekeninge en is onontbeerlik in verskeie tegniese beroepe.

Watter tipe leerder geniet gewoonlik hierdie vak?

Leerders wat ‘n belangstelling het in tegnologie, tegniese tekeninge en ontwerp sal groot waarde uit IGO put. Indien jy oor die volgende eienskappe beskik, kan jy ‘n passie vir hierdie vak ontwikkel:

Netheid en Akkuraatheid
Fyn aandag aan detail
Uithouvermoë en Geduld
Goeie hand-oog-koördinasie
‘n Vermoë om lank te konsentreer
Drie-dimensionele denke en ruimtelike insig

Hierdie vaardighede is noodsaaklik vir sukses in tegniese en ingenieursberoepe.

Watter tipe assessering word in hierdie vak gedoen?

IGO word hoofsaaklik deur praktiese werk geassesseer, wat leerders se begrip van tekentegnieke en vakinhoud toets. Die punte bestaan uit:  SBA’s (Skoolgebaseerde Assessering), toetse en eksamens.

Leerders voltooi tekeninge om te wys dat hulle die konsepte verstaan en tegnieke bemeester.

Aanbevelings vir leerders wat hierdie vak wil neem

Leerders wat in Graad 8 en 9 Tegnologie blootgestel is aan basiese tekeninge sal ‘n goeie idee hê of hulle van tegniese tekenwerk hou.

Alle tekentegnieke word in Graad 10 van nuuts af aangeleer, sodat alle leerders die nodige vaardighede kan ontwikkel.

‘n Belangstelling in tegniese en visuele ontwerp, asook ‘n goeie oog vir detail, sal leerders help om sukses te behaal in hierdie vak.

Slaagvereistes

Graad 10 tot 12 – Twee ander vakke 40% of drie ander vakke 30%