Dit was op ‘n besonderse dag in Julie, die tweede Julie om presies te wees in die jaar van 1955, toe Hoërskool Oos-Moot al wapperende en met ‘n hart wat sterk klop, amptelik sy plek in die hartjie van die Moot ingeneem het soos ‘n oop boek met duisende skoon bladsye en aan sy storie begin skryf het.  Die goud en blou het toe alreeds soos die helder vlam van ‘n fakkel in sy oë gebrand en sy pa het toe al geweet dat daar vir hom nét groot en goeie dinge vir die toekoms wag.  Met kennis en ‘n vlytige hand sou hy werk en oorwin, flink die ongelooflikste Oos-Moot storie skryf (een van daai wat van geslag tot geslag oorvertel word) en strewe na net die beste vir die toekoms.  

Dit was ‘n besige eerste jaar, vra maar vir enige ma met ‘n nuwe baba…en toe gebeur die onverwagte wat hierdie Oosie se pa en ma uit die veld geslaan het.  Pa was nog aan die ploeg en skoffel met die ander kinders (ja hulle het nie net skoolwerk gedoen aan die begin nie).  Ma het toe seker al daar onder die berugte Apiesdoringboom die kleintjies bearbei met somme of spelwoorde en daar voor hul oë het die klein Oosie, aanvanklik op wankelrige bene, sy omgewing begin verken, eers huiwerig en met vrees.  En toe daai wankelrige bene plekmaak vir twee standvastige, gemesellde bakens wat hom met sekerheid deur sy hoërskoolloopbaan (en sy lewe verder) kan dra, het hy sy vlerke begin sprei, sy kleurkryte opgetel en sy unieke merke begin maak oral waar hy kon, sy storie begin skryf en sy plek gevind in die verskeie hartsholtetjies van dit wat hy sy nuwe huis sou noem.  Só sou hy deur deelname en harde werk sy pa se kleintyd drome van werk en oorwin kon uitleef. 

En so het die kleintjie met die aanvanklike vrees en huiwering in sy hart elke dag ‘n bietjie meer tuis gevoel in sy nuwe omgewing en elke dag aan nog ‘n hoofstuk van die ongelooflikste storie begin skryf.  Met die titel van sy eerste hoofstuk afgehandel, ‘n Oosie wat deelneem is ‘n gelukkige Oosie, het hy gou besef dat ‘n storie wat alleen geskryf word, sinneloos is en rondom hom gekyk en ander soos hy opgemerk wat onseker aan hul storie skryf en besluit dat hul saam penne moet optel.  En daar – SAAM – op die welige groen gras in die vierkant, SAAM by die blou bankies onder die bome, SAAM op die naat van hul rûe met hul koppe op hulle tasse, SAAM tydens ‘n lewensbelangrike handjietenniswedstryd, SAAM terwyl hulle met kaalvoete en uithanghemde rugby speel, besef dat SAAM en hegte vriendskapsbande die belangrikste tweede hoofstuk is uit elke Oosie se pen.  

U wonder dalk waarom het ons nie sommer dadelik aan die Akademie- hoofstuk begin skryf nie, want dit is immers waarvoor ons kinders hulle potlode ekstra skerp hou hier by die skool.  Ons glo ons dat ‘n gebalanseerde kind, ‘n gelukkige kind is en wanneer ‘n kind sy plekkie gevind het met getroue kamerade om hom te ondersteun, is ons Oosies ook gereed om saam met passievolle onderwysers op akademiese gebied hul merk te maak – ‘n blywende, indrukwekkende merk.  

Op ‘n nugter maag kan geen Oosieman of -vrou hoegenaamd daaraan dink om ‘n storie te skryf nie en daarom skop ons gereeld skoene uit saam met ons hartsvriende by ons skool se kafeteria waar ons kuier, lag en gesels en die belangrikste – aan heerlike kos smul.  Ons hou sommer baie van ons Ontspanning-en skoene-uitskop-hoofstuk.  Hierdie sone is ook die ideale plek om SAAM akademies te verkeer deur vergete huiswerk op datum te bring, op hoogte gehou te word met die nuutste Oosie-verwikkelinge en getrakteer te word met kreatiewe spesiale aanbiedings soos die “hittegolf special”.  Jy sal maar vir jouself moet kom uitvind of dit storiemateriaal is (en dit by maar net een van ons vele topgehalte fasiliteite beskikbaar vir ons Oosie-kinders).  

Vele hande het dit al gewaag om die Oosie-pen op te tel, maar daar is net een van jou wat jou unieke weergawe kan kom saamskryf. 

Is jy gereed?  Kom skryf vandag nog aan die ongelooflikste storie van jou lewe.  Dit gaan ‘n topverkoper wees.

Crisna Bezuidenhout