Mnr B le Roux
Organiseerder
rugby@oos-moot.co.za
Rugby by Hoërskool Oos-Moot: Tradisie, trots en toekoms
By Hoërskool Oos-Moot is rugby nie net ’n sport nie – dit is deel van ons identiteit. As een van die kernsportsoorte op ons sportkalender, dien rugby as ’n platform waar jong spelers hul talent kan slyp, karakter kan vorm en leer wat dit beteken om deel van iets groter as hulself te wees.
Ons rugbyfilosofie fokus op meer as net die telbord. Dissipline, deursettingsvermoë, sportmangees en die waarde van harde werk staan sentraal in elke oefensessie en wedstryd. Vanaf die o.14’s tot by ons eerstespan, dra elke speler die Oosie-trui met trots en toewyding.
Afgerig tot uitnemendheid
Ons afrigtingspan bestaan uit kundige en ervare mentors wat nie net strategiese insig het nie, maar ook die vermoë het om spelers se selfvertroue, fiksheid en spelintelligensie te ontwikkel. Onder hul leiding word spelers fisiek én mentaal voorberei om op hoë vlak te kompeteer.
Ons is trots op mnr B le Roux, die skool se rugby organiseerder se aanstelling (2025) deur TUKS (Universiteit van Pretoria) as een van hul o.20 (Young Guns) voorspeler rugby-afrigters. Ons is trots op sy prestasie en weet dat hy ’n groot bydrae tot rugby op universiteitsvlak gaan lewer – net soos hy dit by Oos-Moot doen.
Ondersteuning wat saak maak
Ons rugbygemeenskap is sterk – ouers, oud-leerders en leerders ondersteun ons spanne getrou en skep op wedstryddae ‘n gees wat in min ander skole geëwenaar word. Rugby by Oos-Moot is ’n familie-saak – en elke lid van dié familie dra by tot die spangees wat ons so uniek maak.
2026🏉 Hoërskool Oos-Moot maak geskiedenis!
Met trots kondig ons aan dat Oos-Moot uitgenooi is na die 12e NMI Toyota Noord-Suid Rugbytoernooi in 2026 – ’n mylpaal in ons rugbygeskiedenis.
Die blougolf rol in 2026! 🌊💙
Ons gaan voortbou op die suksesse wat reeds behaal is en ons naam nog hoër laat uitstyg op die rugbyveld.
’n Groot dank aan ons spelers, afrigters, ouers, Oosie-ondersteuners en die hele Moot-gemeenskap wat hierdie droom moontlik maak.
2025 – ‘n Uitstaanjaar
Die grootste getal Oosie spelers ooit word in Blou Bul Provinsiale spanne opgeneem. Nege van ons rugbyseuns bereik groot hoogtes met hul insluiting in Blou Bul Provinsiale spanne – ‘n uitsonderlike prestasie. Wanré Strydom (o.15 Afgriweek B-span), Sinawo Stengana (o.16 Noordvaal A-span), Tyrese Adams (o.16 Noordvaal B-span), MC van Tonder en Le-Jerick Vaughn (o.17B Provinsiale span), Riyaan Wilson, Brian Jacobs en Thando Telelo (o.17A Afgriweek span) en Michael Budha (o.16 Grant Khomospan).
Boonop is mnr. Braam Pretorius, ons Sporthoof, aangestel as een van die afrigters van die o.18A Cravenweek-span – ’n groot eer vir hom en vir Oos-Moot.
Noordvaal Plaatafdeling – Oos-Moot spog met sterk vertonings
Ons o.15A- en o.16A-rugbyspanne het die afgelope naweek hul staal gewys in die Noordvaal Plaatfinaal. Die o.15A’s het met vasberadenheid en spanpoging ’n oorwinning van 24–11 oor H/S Zwartkop behaal en so die Noordvaal Plaattitel huis toe gebring!
Die o.16A-span het ook ’n kragtige vertoning gelewer, maar moes uiteindelik 19–24 die knie buig teen ’n sterk H/S Middelburg-span. Hulle geesdrif en deursettingsvermoë het egter groot lof verdien.
Hierdie wedstryde was die kersie op ’n ongelooflike seisoen, en ons is trots op elke speler wat ons skool met eer en trots verteenwoordig het. Oos-Moot rugby leef!
🏉 Montana 7’s Uitslae
O/15-span: 5 wedstryde gespeel – 2 gewen, 3 verloor. Die span het goeie spel gewys met oortuigende oorwinnings teen FH Odendaal en Wagpos.
O/17-span: 6 wedstryde gespeel – 3 gewen, 3 verloor. Hulle het dit tot in die Plaatfinaal gemaak en eindig ’n sterk 6de uit 24 spanne.
Beide spanne het waardevolle ervaring opgedoen en Oos-Moot met trots verteenwoordig.
🏆 Sterk vertoning by Eldoraigne 7’s
Ons Oos-Moot 7’s spanne het puik vertoon teen taai kompetisie:
-
O/17’s: 5 wedstryde – 3 oorwinnings en ’n paar naelskraap nederlae.
-
O/15’s: 5 wedstryde – 2 oorwinnings, insluitend ’n indrukwekkende groot sege teen Die Wilgers.
Beide spanne het karakter, spanwerk en deursettingsvermoë getoon – ons is trots op hul prestasies!
🏆 7’s Rugby 2025 – O/17-span verower Bowl Cup
Ons O/17 Sewe’s-span het op 5 en 6 September aan Hoërskool Zwartkops se jaarlikse 7’s-toernooi deelgeneem en puik vertoon.
-
Dag 1: Drie stywe wedstryde, maar ongelukkig almal verloor.
-
Dag 2: Sterk teruggeveg met 2 oorwinnings (Ben Vorster en Marais Viljoen).
Met hul deursettingsvermoë en harde werk het die span verdien om as Bowl Cup-kampioene gekroon te word.
2024: ’n Jaar van eerste prestasies en nuwe hoogtes
Die 2024-seisoen het geskiedenis gemaak toe Oos-Moot se rugbyspanne vir die eerste keer aan die Plaatafdeling van die Noordvaal-liga deelgeneem het – die tweede hoogste liga in dié gesogte kompetisie. In hul debuutseisoen het ons spanne uitstekend gevaar teen gevestigde mededingers:
🔹 Twee juniorspanne het die semi-finaal gehaal in die Plaatafdeling – ’n besonderse prestasie in hul eerste jaar op dié vlak.
🔹 Die o.15A-span het dapper in die semi-finaal meegeding, maar moes ongelukkig die knie buig.
🔹 Die o.14A-span het tot die finaal deurgedring en teen Hoërskool Transvalia te staan gekom. In ’n hoogs mededingende eindstryd het hulle verloor, maar hul spelgees en deursettingsvermoë het ‘n duidelike boodskap gestuur: Oos-Moot is hier om te bly.
Oos-Moot het die 2024-seisoen afgesluit onder die top 5 skole uit 9 in hierdie uitdagende liga – ‘n trotse prestasie vir ‘n skool wat vir die eerste keer op dié vlak meeding.